Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Epiese ‘Racheltjie’ gaan fliekvlooie bekoor

Die langverwagte rolprent Die verhaal van Racheltjie de Beer word Vrydag landwyd uitgereik. Christiaan Boonzaier het met die regisseur en draaiboekskrywer Matthys Boshoff gepraat oor sy “droomprojek” wat ook ’n Amerikaanse verspreider opgewonde maak, die rolprent se 14-jarige ster, Zonika de Vries, en die 260 skote met visuele effekte wat gebruik is om die volksverhaal nuwe lewe op die grootskerm te gee.

Die verhaal van Racheltjie de Beer word binnekort uitgereik. Knaag die senuwees?

Dit is ’n tipiese ja én nee antwoord. Nee, want ek weet ons het ’n uitsonderlike rolprent gemaak wat by die gehoor sal aanklank vind. Die feit dat ons vandeesweek ’n ooreenkoms bereik het met die Amerikaanse verspreider House of Film, wat Amerikaanse verspreiding en internasionale verkope van die rolprent sal behartig, dui daarop dat Racheltjie se storie voete het en gehore gaan kry.

En ja, ek is ’n bietjie senuagtig. Die rolprent is tot nou toe nog net aan beperkte gehore vertoon. Nou is dit seker soos wanneer ’n kind die huis verlaat: Soos beskermde ouers stuur ons haar die wêreld in, en al weet ons dat sy oukei gaan wees, is ’n mens steeds senuagtig oor wat met haar gaan gebeur en hoe sy ontvang gaan word.

Matthys Boshoff. Foto: Verskaf

Is dit waar dat jy en die skrywer van die gelyknamige roman, Brett Michael Innes, aan 11 weergawes van die draaiboek gewerk het? Hoekom so baie?

Dit is waar, ja. Daar is ’n groot verskil tussen ’n goeie idee, ’n goeie storie en ’n goeie draaiboek. Laasgenoemde verg verskriklik baie werk om reg te kry, aangesien dit die bloudruk word vir die enorme produksieproses wat volg. Iemand het eenmaal vir my gesê: ‘A script is never written, it is only rewritten.’ Soms dink ek ons begin te vinnig met die produksie van goeie stories – maar ’n draaiboek wat nie gereed is nie. Ná 11 weergawes het ek gevoel ons was gereed.

Racheltjie se verhaal is volksbesit – en elkeen het hul eie weergawe van die storie. Hoekom dink jy boei dit mense so?

Die hoofrede is die tussenspel tussen twee magte wat ons almal amper elke dag ervaar en waarmee ons in verskillende vorms in ons lewe worstel: die storm tussen vrees en liefde. Die vrees wat dit by ons inboesem wanneer ’n jong meisie met ’n hulpelose kind in haar arms in die nag in ’n sneeustorm verdwaal, en dan die moed en durf wat liefde skep om te glo in oorlewing en om dan ’n groot opoffering te maak.

Zonika de Vries vertolk die hoofrol in ‘Die verhaal van Racheltjie de Beer’. Foto: Indigenous Film Distribution

Zonika (de Vries, wat die rol van Racheltjie vertolk) se spel is werklik oortuigend – dis moeilik om te glo sy is ’n nuweling.

Zonika de Vries (no pun intended) is ’n ster. Ons het van die begin geweet ons soek ’n tawwe 12- tot 13-jarige meisie met ’n sterk karakter, leierseienskappe en ’n gevoel van onafhanklikheid. Sy moes die spanning van Racheltjie se innerlike reis kon vasvang, naamlik ’n kind wat soos ’n volwassene moes leef.

Alles van Zonika se karakter het die teenstrydighede van Racheltjie se karakter weerspieël. Hoewel sy soos ’n 13-jarige lyk, sien ’n mens in haar oë die intellek van ’n volwassene: modern, vroulik en taai soos ’n ratel. Haar toneelspel is gelykstaande aan die beste volwasse akteur s’n; sy kan met ’n enkele kyk boekdele spreek.

Julle het die rolprent in die Oos-Vrystaat en Drakensberge geskiet. Wat was van die vernaamste uitdagings op stel?

Amper alles was ’n uitdaging. (Lag ek nou lekker.) Dit is ’n epiese geskiedenisrolprent met diere – dink jou in hoe lank dit vat om ’n ossewa en span osse om te draai vir nog skote, of wat dit verg om ’n kalfie te laat toneelspeel; daarmee saam kinderakteurs, grootskaalse visuele effekte, dít alles in afgesonderde, onherbergsame landskappe, wat met beperkte hulpmiddele aangepak is.

Ek sou wel sê dit was baie uitdagend om in die middernagtelike ure in die koue te verfilm met twee kinders wat in die donker in die bos rondhardloop en massiewe windmasjiene en nagemaakte sneeu wat hulle tref. Dit het dit alles wel eg gemaak – so eg soos dit vir Racheltjie moes wees.

Die rolprent maak gebruik van besonderse visuele effekte – iets wat ek nog nooit in ’n Afrikaanse rolprent gesien het nie. Vertel ons meer daarvan.

Die visuele effekte is hoofsaaklik deur Hilton Treves en sy span by Cinegestix behartig, hoewel (die redigeerder) Warwick Allen en sy span by Mushroom Media ook ’n hand daarin het.

Daar is om en by 260 skote met visuele effekte in die rolprent, wat nog nie in ’n plaaslike rolprent gedoen is nie. Dit gee Racheltjie ’n epiese kwaliteit en afronding; dit is gelykstaande aan ’n Hollywood-rolprent met baie groot begrotings.

Daar is om en by 260 skote met visuele effekte in die rolprent, wat nog nie in ’n plaaslike rolprent gedoen is nie.
Matthys Boshoff, regisseur

Aangesien ons die rolprent juis in die tradisie van fabels vertel, gee die visuele effekte ’n droomagtige en mitologiese gevoel aan die beelde, en dit het ons ook in staat gestel om ’n karakter uit die storm te skep.

Visuele effekte is tegnies uitdagend, verg ongelooflik gedetailleerde werk – waar algebra en kreatiwiteit bymekaarkom – en dit is tydrowend en relatief duur. Gelukkig het Hilton, Warwick en hul spanne so baie van die projek gehou dat hulle ons tegemoetgekom het om die rolprent binne ’n begroting af te handel.

Meer oor:  Kyknet  |  Zonika De Vries  |  Flieks  |  Racheltjie De Beer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.