
Die regisseur Koos Roets in die Showroom-teater in Prins Albert waar hy later in Desember vereer gaan word. Foto: Marlene Malan
Hy het hom
onderskei as een van Suid-Afrika se voorste rolprentmakers, regisseurs,
kinematograwe en draaiboekskrywers, bekend vir sy werk aan ikoniese rolprente
soos Faan se trein en Die wonderwerker, asook die tydlose TV-reeks
Koöperasiestories.
Nou gaan
The Showroom-teater in Prins Albert die befaamde en bekroonde Koos Roets van
Klaarstroom gedurende die naweek van 18 tot 20 Desember met ’n aanbieding van
sommige van sy rolprente vereer. Die teater noem dit die “Koos
Roets-fliekfees”.
Roets het
bevestig dat hy by die geleentheid sal wees en dit op die Vrydagaand open met
’n gesprek oor sy loopbaan in die rolprentbedryf wat in 1962 begin het.
’n
Dokumentêr oor sy lewe, vervaardig deur Simon Barnard (seun van die
rolprentregisseur Katinka Heyns en die skrywer Chris Barnard), word ook dié
aand vertoon, en Heyns sal een van die teater se gaste wees.
Die rolprente
wat op die Koos Roets-fliekfees vertoon gaan word, is Faan se trein (2014),
Abraham (2015), Hoener met die rooi skoene (2017), Die wonderwerker (2012), Nag
van die 19de (1992), Die storie van Klara Viljee (1992), Paljas (1998), Kootjie
Emmer (1977), Die sersant en die Tiger Moth (1973), Vlug van die seemeeu (1972)
en Erfgenaam (1971).
Roets was
betrokke by 150 produksies en is al 35 keer vir pryse benoem, waarvan hy 33
keer as die wenner bekroon is.
Feesgangers
kan enkelvertonings bywoon of ’n dag- of naweekpas koop.
Volgens
Marelize Vorster, bestuurder van die teater, en Daniel Dercksen,
bemarkingsbestuurder, word Roets vereer omdat hy ’n bekende inwoner van die
omgewing is en ook om sy 78ste verjaardag op 7 Januarie te vier.
Dit gaan ’n
goeie jaar vir hom wees, sê Roets, want hy werk reeds aan splinternuwe
projekte.
Hy het aan Netwerk24
gesê hy is bly dat sy ouer werk steeds onthou word. Hy sal die hele naweek in
Prins Albert wees om saam met fliekgangers te kuier.
Die skrywer
en rolprentresensent Leon van Nierop beskryf Roets in sy boek Daar doer in die
fliek as ’n uitstekende kameraman wat “met beligting ’n boeiende atmosfeer
skep”.
Roets het
in 1962 as assistent-kinematograaf – destyds assistent-kameraman genoem – begin
werk toe hy op die stel van die rolprentmaker en regisseur Jamie Uys se Lord
oom Piet ingeval het.
Van Nierop
beskryf Paljas en Die storie van Klara Viljee, met Roets as kinematograaf, as
“meesterstukke” en Die wonderwerker as “fenomenaal”.
Oor Faan se
trein, waarvan Roets die regisseur was, sê hy dit het die Afrikaanse
rolprentlandskap vergroot en verryk.
“Roets
bereik hier ’n hoogtepunt as regisseur en plaas die kroon op sy werk oor die
afgelope 50 jaar as kinematograaf, vervaardiger en regisseur.”
• Vir meer inligting en bespreking, besoek https://www.showroomtheatre.co.za/koos-roets-fliekfees/
• Vir verblyf in en om Prins Albert: www.princealbertaccomm.co.za of www.princealbert.org.za/
Bykomende bron: Daar doer in die fliek: Leon van Nierop (Protea Boekhuis, 2016)