Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
FLIEK: Kyk wat 17 jaar se inperking inhou ...

Snowpiercer. Met Chris Evans en Jamie Bell. Regisseur: Bong Joon-ho.
 ****

’n Resensent moet versigtige keuses maak oor watter soort rolprente in hierdie droewe, begrendelde dae geresenseer word. Mense smag eintlik na opwinding en komedie en hunker na verstrooiingsvermaak wat moeë siele op ’n fliekpiekniek neem. Maar op ’n blad soos hierdie wil ’n mens darem nie net popel oor Noah Centineo se jongste gespog met sy gespierde kaal bolyf nie. Kern (al is dit neerdrukkend) help jou tog ook om goeie rolprente te ontdek of jou rolprentgeletterdheid te verryk, vandaar die resensie oor hierdie briljante Engelse film van Bong Joon-ho. Hy’t mos Parasite gemaak.

’n Groep mense word vir 17 jaar (!) op ’n trein ingeperk wat om die wêreld rondomtalie. Die planeet het gevries en die enigste oorlewendes is gevangenes. Indien die trein sou stop, vries almal. Natuurlik steek korrupsie sy kop uit in ’n wrede klassestelsel.

Die “gepeupel” (werkers waaronder Chris Evans en Jamie Bell) is in die agterste hel-deel van die trein vasgevang wat bestaan uit ongeveer 20 waens. Indien hulle kan slaag om by die treindrywer, ene Wilfred, uit te kom kan hulle ’n verandering teweegbring sodat almal dieselfde soort voedsame kos kry wat op die trein gekweek word.

Tallose mense sterf in Curtis (Evans) se pogings om die mal treindrywer te onttroon, waaronder die onherkenbare Tilda Swinton as ’n hoofkommandant. Jy het lanklaas so ’n potsierlike en vreesaanjaende skurk gesien. ’n Waarskuwing vir onder 16’s: Die geweld is wreedaardig. Bloed spat in gevegte soos laas in Braveheart (1995), en die plofklank van byle deur liggame ontsenu ’n mens. Maar 17 jaar se inperking doen dit aan mense.

Bong se kloustrofobiese kamerawerk laat jou voel (soos in Wolfgang Petersen se klassieke 1981-film Das Boot) dat jy self ’n gevangene is tussen die vuil, kokkerot-etende gevangenes. Jy ruik die sweet en bedompigheid. Die gebrul van die trein en dolle vaart in die agterste kompartemente, die slawerny, kinders wat ontvoer word en die bloeddorstige gevegte om deur die honger massa na voor te beweeg, is pakkend en spannend.

Sonder om te veel te verklap, die visuele- en klankkontras van agter na die voorste waens laat hierdie visuele nagmerrie na drie verskillende films lyk. Maar dit is die verysde planeet buite die trein, die wegsnyskote na die wiele wat dreig om van hul spore af te tuimel en die doodsheid in die waens wat jou aandag vashou.

Die ergste is: Iemand rook die laaste sigaret wat ooit vervaardig is. Dalk identifiseer jy . . .

Aksie met styl, gevegte tot die dood soos lanklaas tevore uitgebeeld, uitstekende spel en ’n voortvarende regisseur wat kanse waag, maak hiervan ’n vierster-ervaring.

  • Op Netflix.

The Drowning met Josh Charles, Julia Stiles en Avan Jogia. Regisseur: Bette Gordon **

Die alternatief vir hierdie lood­swaar verdrinking is die power trippe-trappe-trone-animasieprent op BoxOffice, Trouble, oor ’n brakkie wat moet leer om sy selfsug in die werklikheid te besweer, maar dis net vir kinders onder agt. O nee! Hierdie brakkie moet liewers hokgeslaan word en daar bly.

Daarom liewer hierdie drama, wat soveel potensiaal gehad het wat verlore gaan, oor ’n kindersielkundige wat ’n desperate seun red wat probeer selfmoord pleeg. Maar geen goeie daad bly ongestraf nie, en kort voor lank teister die laaitie met sy boosaardige oë die sielkundige en ons vermoed dat daar ’n verband uit die verlede tussen hulle is.

Die klippie in die fliek se skoen is sy tamheid. So energiek soos wat Snowpiercer is, so moeisaam struikel-val hierdie drama oor verskeie struikelblokke in sy storiepad soos ’n huwelik wat verbrokkel terwyl ’n sielkundige aandag aan ’n getraumatiseerde psigopaat gee. Sy duiwelse manipulasie vervlak die hulp wat die sielkundige aanbied tot ’n marteling. Word die dokter net gebruik?

Selfs Josh Charles poer-poer traag teen die akteursbult uit terwyl Julia Stiles, wat gewoonlik sulke stewige spel lewer, lyk of sy vir agt weke lank, nes ons, ingeperk is en haar frustrasie op die kyker probeer uithaal. Sy oortuig nié in die rol nie.

Slegs die enigmatiese Avan Jogia as die geteisterde jong moordenaar sit darem bietjie energie in die strak draaiboek.

Al lyk die plakkaat hoe aanloklik (en moenie dit met ’n gelyknamige TV-reeks verwar nie), is dit maar troebel en harmansdrup-traag. Freud draai in sy graf om!

  • Op Netflix.
Meer oor:  Netflix  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.