
Die huis van Dewald Hatting, DA-raadslid, waar die hooftonele van die fliek ‘The Madonna of Excelsior’ in Februarie verfilm gaan word. Foto: Mlungisi Louw
Terwyl baie inwoners van Excelsior in die Vrystaat wil vergeet van ’n Ontug-skandaal uit die apartheidsjare, word ’n fliek binnekort hier gemaak oor die opspraakwekkende voorvalle waarby onder andere boere en 12 swart vroue betrokke was.

Joernaliste van oor die wêreld heen het op Excelsior toegesak nadat die bom oor die ontugskandaal hier gebars het.
The Madonna of Excelsior, ’n verwerking van Zakes Mda se gelyknamige boek wat geskoei is op die gebeure in die vroeë 1970’s, word in Februarie op dié dorp verfilm met ’n rolprentspan van sowat 50 mense, akteurs ingesluit, wat betrokke is.
Sommige mense meen die kinders wat uit die omstrede verhoudings oor die kleurgrens heen (’n oortreding van die destydse Ontugwet) gebore is, is lank reeds uit die dorp, terwyl ander meen daar is nog baie wat hier woon.
’n Bejaarde inwoner, wat anoniem wil bly, sê dit was vir almal op die dorp ’n skok toe die mans skielik in 1970 in hegtenis geneem is. “G’n mens het geweet hoekom nie, want dit was iets wat maar oral gebeur het.
“Vier was plaasboere, een was ’n student aan Potchefstroom se landboukollege, en die een was die eienaar van die slaghuis.”
Johannes Calitz, die eienaar van die slaghuis, het homself met ’n haelgeweer om die lewe gebring.
Die vermoede is dat een van die ses mans se pa, ’n polisieman in Johannesburg, se kollegas dit uitgevind het.
Die pa het later ook sy eie lewe geneem.
Die oggend voordat hulle in die hof moes verskyn, is die klagte teruggetrek.

’n Vervalle gebou op Excelsior, waar die omstrede Ontug-skandaal in die vroeë jare van die 1970’s afgespeel het. Foto: Mlungisi Louw
“Maar ôg, dit was erg. Hier was mos nie televisies in die land nie. Maar toe was hier televisiespanne van oorsee, Brittanje, orals. Al die plekke. Daai joernaliste het al wat ’n huis is hier beset.”
Hy sê die feit dat dit binnekort weer gaan gebeur, met al die fliekmakers op pad na die dorp, pla hom nie.
“Dit is wel hartseer vir die mense wat betrokke was. Dis net sleg, want hier is van daai kinders.”
Hy sê op Excelsior is daar mense wat glad niks met dit uit te waai wil hê nie.
“Ander is weer dankbaar vir die nuwe voete op die dorp.”

Excelsior sal binnekort vir ’n tweede keer wemel van kameramanne met ’n fliek oor ’n Ontug-skandaal wat eersdaags hier geskiet gaan word. Foto: Mlungisi Louw
Dewald Hatting, ’n DA-raadslid en jare lange inwoner op die dorp in wie se huis baie van die hooftonele sal afspeel, sê hoewel dit ’n omstrede onderwerp is, sal dit steeds ’n goeie impak op die ekonomie en die inwoners hê.
“Dit gaan vir my uit en uit oor die ekonomiese inspuiting in die dorp.”
Hy sê daar is byvoorbeeld 14 mense wat aan sy huis gaan werk om dit reg te kry vir die fliek, wat nie andersins ’n inkomste sou kry nie.
Die fliekmakers beplan ook om hul maaltye en algemene benodigdhede op die dorp te koop. Hulle is tans in die proses om toestemming te kry om ook van die tonele in ’n pakhuis te verfilm.
Die fliek word in Afrikaans en Sotho verfilm en behels glo geen plaastonele nie.
Dr. Maboreng Maharaswa, ’n onderwyskundige van Bloemfontein, is die vervaardiger van die rolprent.