Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Fliek-opskop’ lok fliekflooie terug na die inryteater

“Ek is so opgewonde daaroor soos toe ek my eerste fliek op vyfjarige ouderdom gesien het,” sê Leon van Nierop, fliekresensent en skrywer, oor die inryteater wat by Sandton City in Johannesburg bekend gestel is.

Die inisiatief het fliekvlooie behoorlik opgewonde.

Met dié teater word beoog om die nostalgie van inryteaters nuwe lewe in te blaas en vermaak te verskaf sonder om die gevreesde koronavirus Sars-CoV-2 te versprei.

’n Groep uitgesoekte gaste het gisteraand die eerste vertoning van die inryteater bygewoon en uit hul motors die 2018-treffer A Star is Born gekyk.

Die reuseskerm van die inryteater wat môre vir die publiek oopgestel word by Sandton City in Johannesburg.

’n Tweede groep uitgesoekte gaste sal vanaand met die splinternuwe fliek Godzilla vs. Kong vermaak word.

Dié inryteater, wat in samewerking met Ster-Kinekor opgerig is, word môre vir die publiek oopgestel.

“Rolprente veg terug en lok fliekgangers met ’n opwindende inisiatief wat die bedryf ’n heerlike hupstoot sal gee en die romanse en sjarme van fliek toe gaan weer kan aanmoedig.

“Bravo vir hierdie fliek-opskop-plan! Dis die begin van die ommekeer, die entstof teen die TV-kamer-grendelgreep,” voeg Van Nierop opgewonde by.

Die inryteater sal elke Donderdag, Vrydag, Saterdag en Sondag rolprente vertoon, tot 31 Julie.

Frozen, Bohemian Rhapsody, The Incredibles, Despicable Me en The Greatest Showman is van die rolprente waarna inry-teatergangers kan uitsien.

Die inryteater is op die dakparkeerterrein van die gewilde winkelsentrum.

’n Toneel uit die rolprent Godzilla vs. Kong, een van die rolprente wat by die nuwe inryteater by Sandton City in Johannesburg vertoon gaan word.

“Die inryteater onderskei Sandton City van ander winkel- en sakesentrums en bied kliënte die geleentheid om vermaak te geniet terwyl die veiligheid en gemak van ’n gesonde afstand gehandhaaf word,” sê Preston Gaddy, hoofbestuurder van Sandton City.

Volgens die bestuur van Sandton City ondersoek hulle ook die moontlikheid om plaaslike flieks te vertoon, juis omdat die Covid-19-pandemie en gevolglike inperkingsmaatreëls dié bedryf gekniehalter het.

Inryteatergangers word gemaan om maskers te dra wanneer hulle uit hul motor klim en om te alle tye ’n gesonde afstand te handhaaf.

Kaartjies kos vanaf R200 en kan op quicket.co.za gekoop word.

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Johannesburg  |  Sandton City
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.