Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Fliek wil aandag op huiswerkers vestig, sê 1ste ‘Poppie’
Nomsa NeneFoto: Melanie Cleary

Sy was die eerste Poppie. In die teaterstuk Die swerfjare van Poppie Nongena was Nomsa Nene in die vroeë 1980’s een van die eerste swart aktrises op wit verhoë in apartheid-Suid-Afrika. Die rol het staande ovasies op Broadway, waar dit in Engels opgevoer is, ontvang.

Nou speel sy Poppie (Clementine Mosimane) se ma, Lena, in Christiaan Olwagen se langverwagte Poppie Nongena.

Dié fliek, wat Vrydagaand op die negende Silwerskermfees in Kampsbaai wys, is gegrond op Elsa Joubert se roman wat in 1978 verskyn het. Dit is in 13 tale vertaal en word as een van die groot romans van die 20ste eeu beskou.

Dit handel oor ’n Xhosavrou wat midde-in ’n onstuimige apartheid-Suid-Afrika veg om ’n tuiste vir haar gesin te probeer skep. Haar lewe speel af met die herinneringe van die tragedie van Sharpeville teen die agtergrond van die Soweto-opstande.

Haar huwelik, verset teen die paswette wat haar lewe reguleer en teen hervestiging in ’n afgeleë township, is onder meer die gegewe.

Ek glo die prent gaan die jonger geslag opvoed oor hoe dit was hier in Suid-Afrika. Ons moet die verlede onthou.
Nomsa Nene, aktrise

Akteurs soos Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais en Dawid Minnaar is ook in die rolprent te sien.

“Dit was dapper om in daardie jare so ’n toneelstuk op die verhoog te sit. Die regisseur Hilary Blecher was baie braaf. Afrikaans was ’n problematiese taal. Dit het aanstoot gegee. Om dan die storie van die verdrukking van die Afrikaners se apartheidswette ook nog te vertel, was vir baie gehore ’n bitter pil,” sê Nene telefonies uit Johannesburg. Nene se ouma Lena was ’n huishulp en sy het haar destyds as rolmodel gebruik.

“As die rolprent die aandag kan vestig op die huishulp wat in jou huis werk, het dit in sy doel geslaag. Daar is steeds huishulpe en werkers wat uitgebuit word, wat nie betaal word vir wat hul werk werd is nie. Al is ons ’n kwarteeu ‘vry’. Die geskiedenis het ’n manier om homself te herhaal – ons het verwagtinge, daar is steeds nie respek nie.”

Sy is trots daarop om deel van die fliek te wees. Poppie is vir haar soos Bertolt Brecht se Moeder Moed.

“Ek glo die prent gaan die jonger geslag opvoed oor hoe dit was hier in Suid-Afrika. Ons moet die verlede onthou.”

Nene onthou hoe die ontslape kunsjoernalis en skrywer Barrie Hough hulle bygestaan het met hul uitspraak in Afrikaans. Sy onthou ook hoe sy bewend op die verhoog gegaan het in die Staatsteater en hoe die stuk daar ontvang is.

Die rolprent word op 31 Januarie 2020 landwyd in Suid- Afrika uitgereik.

Meer oor:  Silwerskerm19  |  Silwerskermfees  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.