Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Fliekfees ken voortaan gender-neutrale pryse toe

Die bestuur van die roemryke internasionale rolprentfees in Berlyn, wat in die volksmond bekend staan as die Berlinale, het aangekondig dat hulle voortaan slegs gender-neutrale pryse gaan uitdeel.

Die kategorieë vir beste akteur en beste aktrise is amptelik geskrap en sal deur twee ander kategorieë vervang word: beste vertolking in ’n hoofrol en beste vertolking in ’n ondersteunende rol. Enige toneelspeler van enige gender sal voortaan teen mekaar in dié nuwe kategorieë meeding.

Ek is van die generasie waar die woord ‘aktrise’ bykans altyd op ’n verkleinerende manier gebruik is.
Cate Blanchett

“Ons glo dat dié stap – om voortaan nie meer pryse volgens gender te skei nie – bewusmaking rondom ’n meer gender-sensitiewe rolprentbedryf kan skep,” lui ’n verklaring.

Die tweemalige Oscar-wenner Cate Blanchett, wat hoof is van die jurie by vanjaar se internasionale rolprentfees in Venesië, het dit volgens The Guardian twee duime na bo gegee.

“Ek het nog altyd na myself verwys as ’n akteur,” het Blanchett aan ’n groep joernaliste gesê.

“Ek is van die generasie waar die woord ‘aktrise’ bykans altyd op ’n verkleinerende manier gebruik is.

“Ek dink ’n goeie vertolking is ’n goeie vertolking, ongeag die seksuele oriëntasie van wie dit doen.”

Die Oscar-wenner Tilda Swinton was ook net vol lof oor die besluit.

“Ek is regtig bly om te hoor van Berlyn, en ek dink dit is onvermydelik dat almal (ander rolprentfeeste) sal volg – dit spreek net vanself.”

• Vervaardigers van die wetenskapsfiksiereeks Star Trek: Discovery het intussen die reeks se eerste transgender- en nie-binêre karakters bekend gestel.

Blu del Barrio gaan die eerste nie-binêre karakter in die ‘Star Trek’-franchise vertolk. Foto: Twitter
Ian Alexander gaan die eerste transgender-karakter in die ‘Star Trek’-franchise vertolk. Foto: Twitter

Dit is die eerste keer in die hele Star Trek-franchise se geskiedenis van byna 55 jaar dat ’n transgender- en nie-binêre karakter hul verskyning in die reeks maak.

Volgens die BBC sal die transgender-karakter, bekend as Gray, vertolk word deur die transgender-akteur Ian Alexander, terwyl die nie-binêre karakter, Adira, deur die nie-binêre toneelspeler Blu del Barrio vertolk sal word.

“Ons glo daarin om mense te wys dat ’n toekoms sonder verdeling op grond van ras, gender, gender-identiteit of seksuele oriëntasie binne bereik is,” het Michelle Paradise, die reeks se uitvoerende vervaardiger, gesê.

Star Trek: Discovery, wat hier in Suid-Afrika op Netflix beskikbaar is, het voorheen ook die eerste getroude gay paartjie in die franchise ingesluit.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Cate Blanchett  |  Fliek  |  Netflix  |  Tilda Swinton  |  Flieks  |  Star Trek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.