Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Fliekhuise veg om Thai-grotverhaal te vertel

In Hollywood word reeds gestoei om eerste die verhaal van die Thai-grotredding op die silwerdoek te wys.

Die span voordat hulle in die grot vasgekeer is

Volgens Rolling Stone het Pure Flix Entertainment, die produksiemaatskappy van die rolprentreeks God’s Not Dead, reeds aangekondig dat hulle ’n rolprent gaan maak.

Maar volgens Ivanhoe Pictures in Los Angeles het die Thaise regering hulle gekies om die rolprent te ontwikkel. Die naam van Jon M. Chu is genoem as regisseur. Hy het laas met Ivanhoe saamgewerk in die romantiese komedie Crazy Rich Asians.

Jon M. Chu

Kommer word reeds uitgespreek dat die rolprent, indien nie deur die regte mense vervaardig word nie, meer op internasionale hulp sal konsentreer en die rol van die mense van Thailand sal onderspeel.

Chu sê in hul hande sal dit nie gebeur nie. Die gebeure sal met respek weergegee word met die regte eer waar dit toekom.

Die televisie gaan hulle egter een voor wees en gaan reeds Vrydag ’n uur lange dokkie op die Discovery-kanaal wys wat die ware gebeure toon sover as wat dit verfilm kon word.

Volgens BBC News gaan die grotreeks in die noorde van Thailand in ’n museum omskep word. Daar sal gewys word hoe die reddingspoging verloop het en hulle glo dit sal ’n groot toeristeaantreklikheid wees.

Die dramatiese redding van die jong sokkerspan en hul afrigter het mense wêreldwyd aangegryp en die vordering is amper soos ’n sepie gevolg.

Michael Scott, hoofbestuurder van Pure Flix Entertainment, hou vol dat hulle ’n rolprent gaan maak. Volgens die maatskappy gaan hulle ’n inspirerende rolprent maak en nie een met ’n Christelike strekking nie. Hy het aan Hollywood Reporter gesê hulle wil wys wat dapperheid beteken en die helde van die hele redding eer.

The Wall Street Journal sê Pure Flix probeer reeds die regte verkry van die redders van die 12 seuns en hul afrigter wat twee weke lank in die Tham Loeang-grot vasgekeer was en oorleef het.

Dit is een van die grootste grotstelsels in Thailand en is onder die berge in die omgewing van die klein dorpie Mae Sai in die noordelike provinsie Tsjiang Rai op die grens met Mianmar. Die kinders en hul afrigter was hier vasgekeer nadat moesonreën uitgesak het. Hulle is uiteindelik gered danksy die span duikers en hulp van die Thaise regering. Een duiker is dood in die voorbereiding vir die reddingspoging.

’n Ander rolprent wat wêreldwye belangstelling uitgelok en die verbeelding aangegryp het, is The 33 oor die Chileense mynramp waarin 33 mynwerkers 69 dae lank ondergronds vasgekeer was.

Meer oor:  Michael Scott  |  Jon M. Chu  |  Thai-Grotredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.