Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Octopus Teacher’ se Oscar ' 'n groot eer', sê fliekmaker

Die rolprentmaker Craig Foster, wie se vriendskap met ’n seekat in die dokumentêr My Octopus Teacher wêreldwyd harte vermurwe, sê dit is werklik ’n groot eer vir hom dat die rolprent ’n Oscar verower het.

Foster en die seekat wat sy hart gesteel het. Foto: Ross Frylinck

Dié Netflix-dokumentêr het die dokumentêre prente Collective, Crip Camp, The Mole Agent en Time in die kategorie vir beste vollengte dokumentêr uitgestof en Maandagoggend (SA tyd) vermoedelik die eerste dokumentêr vanuit Afrika geword wat in dié kategorie kon koning kraai.

Pippa Ehrlich en James Reed, wat die rolprent geregisseer het, het die Oscar in Union Station, Los Angeles, in ontvangs geneem. Foster, wat ook die rolprent vervaardig het, kon nie die seremonie bywoon nie omdat hy reeds aan ’n ander projek werk. Hy kon weens ’n swak TV-sein ook nie na die toekenningsplegtigheid kyk nie.

“Dit is werklik so ’n groot eer dat ons rolprent hierdie ongelooflike prys gewen het,” sê hy in ’n videoboodskap aan Netwerk24.

“As daar ooit ’n rolprent was wat deur ’n span gemaak is, is dit dié een. Dit was ’n spanpoging, soos bye in ’n korf – ’n groep toegewyde mense van Suid-Afrika en ander dele van die wêreld wat hul hart en siel in die vervaardiging van hierdie rolprent gestort het.”

Foster sê dit is opwindend dat hul Oscar-oorwinning ’n kollig op die ekosisteem aan die Suid-Afrikaanse kus plaas.

“Die biosfeer daar is een van die omvangrykste ter wêreld, en dit is kritiek dat ons daarna omsien.

“Na my mening is een van die gevaarlikste aspekte van ons tyd die mens se hart wat koud word oor natuurkwessies. Dié prys en die blootstelling wat daarmee saamkom sal baie doen om mense se uitkyk op die wonders in ons natuur – en hoe kritiek dit is vir die mens se bestaan – te verander.”

Craig Foster Foto: Sea Change Project

Hy sê dit is ook opwindend dat My Octopus Teacher die eerste Suid-Afrikaanse rolprent is om met ’n Oscar vir beste vollengte dokumentêr bekroon te word en dat die Oscar die Groot Afrika-seewoud eintlik noodsaaklike beskerming en bewaring sal gee.

“Die Groot Afrika-seewoud en die kus hier aan die onderpunt van Afrika is werklik my gunstelingplek op aarde. Dit is die opwindendste plek waar ek nog was. Ek het hier begin duik toe ek net drie jaar oud was – en ek doen dit steeds elke dag. Ek kan my nie indink om dit nie te doen nie. Dit is so ’n wonderlike plek. Dit is ’n massiewe onderwaterwoud gevul met ongelooflike dierelewe, en dit is een van die laaste wilde plekke op aarde. Dit voed ’n mens se verstand, liggaam en siel op ’n manier wat moeilik is om te beskryf.

“Dit is beeldskoon, dit is mooi, dit is kwesbaar, en ons het sulke plekke ontsettend nodig. Ons het dit nodig vir die mens se hart, vir die mens se siel om te gedy.”

Pippa Ehrlich en James Reed met die Oscars wat hulle vir ‘My Octopus Teacher’ gewen het. Foto: Getty Images

Foster wou nie kommentaar lewer oor waar hy beplan om sy Oscar-beeldjie uit te stal of te stoor nie.

  • Besoek https://seachangeproject.com/ vir meer inligting oor die Groot Afrika-seewoud.
Meer oor:  Groot Afrika-Seewoud  |  James Reed  |  Time  |  Pippa Ehrlich  |  The Mole Agent  |  Collective  |  Crip Camp  |  Fliek  |  My Octopus Teacher  |  Oscars  |  Oscar  |  Flieks  |  Craig Foster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.