Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Flieks: Reeks oor Epstein laat kyker ontstoke

JEFFREY EPSTEIN: FILTHY RICH. Regisseur: Lisa Bryant. ****

Sommige dokumentêre kan ’n mens vraatkyk met skaars ’n badkamerbesoek tussenin. Indien alkohol vandag reeds vryelik beskikbaar was, sou hierdie reeks jou kort-kort na ’n vertroostende sopie laat gryp het om die senuwees te kalmeer.

Want waar Harvey Weinstein aktrises gewetenloos gemolesteer het en die kyker se koors telkens laat styg het, voel die kyker naar, ontstoke en oorweldig deur woede oor wat hiér gebeur het.

Moet net nie jou temperatuur by ’n winkel laat meet nadat jy hierdeur gesit het nie, want dit kan dalk ver bo 38 °C wees.

Met sy geheimsinnige, selftevrede grynslag het hy die meisies tjop-tjop masseerbed toe gejaag. Die meisies was feitlik deurgaans jonger as 17.

Met kliniese presiesheid (soms ’n bietjie te lank en herhalend) verduidelik die regisseur hoe die miljardêr-pierewaaier en sakeman Jeffrey Epstein nie alleen miljarde dollars gewas en gesteel het nie, maar ’n swetterjoel meisies seksueel gemolesteer het. Sommige was slegs 12 jaar oud. Maar met sy geheimsinnige, selftevrede grynslag het hy die meisies tjop-tjop masseerbed toe gejaag. Die meisies was feitlik deurgaans jonger as 17.

Die reeks verduidelik hoe Epstein hulle gemanipuleer, misbruik en verkrag het met ’n nonchalante charisma.

Maar die ergste is hoe die regstelsel anderpad gekyk het en Epstein vir dekades laat wegkom het terwyl dit ooglopend duidelik was wat se wandade hy gepleeg het. Ook hoe hy, toe hy later gearresteer is, soos ’n koning vir agt maande in die tronk geleef het en daagliks in gemak buite die tronk “gaan werk” het. Met agt van die land se topprokureurs het hy met gruwelike oortredings weggekom.

Die reeks ontbloot ’n sosiopaat en narsis wat sy wildste seksuele fantasieë met ’n sjarmante selfversekering en skeermeslem-glimlag verwesenlik het.

Die reeks ontbloot ’n sosiopaat en narsis wat sy wildste seksuele fantasieë met ’n sjarmante selfversekering en skeermeslem-glimlag verwesenlik het. Om hom dop te hou terwyl hy (o, so verveeld) ondervra word, en sy yskoue oë dop te hou wat geamuseerd na sy ondervraers staar, is onthutsend.

Tot daar oor die voorkoms van sy penis gepraat is. Slegs hierdie aantasting van sy “waardigheid” het hierdie verwaande kindermolesteerder se houding effens laat wankel.

Wees voorbereid op gruwel-belydenisse, dikwels eksplisiet, oor hoe hy vroue gedwing het om op sy eiland, in sy New Yorkse woonstel, sy Palm Beach-paleis en die duurste huis in Florida sy onuitputlike verslawing aan seks te bevredig.

Maar dit is eintlik die Amerikaanse regstelsel wat gebuig het voor sjarme, mag en geld, wat in die regbank staan. Ook die bekendes wat vrolik by hom gekuier het.

Hoe is Epstein uiteindelik “gestraf”? Kyk maar na episode 4.

  • Op Netflix.

The English Game
T
HE ENGLISH GAME Met Edward Holcroft en Kevin Guthrie. Regisseur: Tim Fywell.
 ***

Bespreking (en ligte teleurstelling) oor hierdie bedaarde reeks deur mense wat omgee vir sport en voetbal het regdeur die grendeltyd dikwels na hierdie resensent deurgesyfer. En ná ’n versigtige indoop van die toon in episode een, blyk die res van die reeks van ses episodes swaarwigtig dog bedaard en gesofistikeerd te wees. Ook g’n wonder nie, want Julian Fellowes, die vader van Downton Abbey, was een van die medeskeppers, en spore van daardie reeks skemer hier deur.

Dit gaan aanvanklik oor die ontstaan van sokker in Brittanje, spesifiek by Eton, en die binnegevegte wat die sport in sy kinderskoene in 1879 gekenmerk het. Die verhewe Old Etonians het die sport as hulle s’n gekoester en almal moes by hul reëls inval, wat tot ’n opstand gelei het. Maar dit gaan veral ook oor klasseverskille, want sokker was destyds ’n verhewe gentleman-spel.

Sokker en romanse meng nie altyd gemaklik nie.

Maar alles het verander toe werklose, arm arbeiders ook daaraan wou deelneem en nie tevrede was met die streng reëls en Boheemse maniertjies van die ryk spelers nie. Dit laat die reeks dan wipplankry tussen sokker en sosiale probleme en opstande. Maar uit die pen van Fellowes (’n medeskrywer) het dit ’n Downton Abbey-aanslag wat bots met sokker, gevoer deur die frustrasies van opstandige werkloses en die diskriminasie teen die middelklas. Dit is jammer, want uiteindelik is daar ’n wanbalans tussen sport en melodrama.

’n Kinderlose huwelik en die passievolle spel waarin manne uiting aan hul frustrasies kon gee, lê ook nie altyd lekker langs mekaar nie. Maar soms keer die reeks terug na sy doel: Twee Skotse spelers wat die Old Eto­n­ians (en die bestuurder, Arthur Kinnaird) gedwing het om veranderings aan die FA-beker se reëls aan te bring. Sokker en romanse meng nie altyd gemaklik nie.

  • Op Netfllix.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.