Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Flieks vir die naweek

Fliekvlooie kan Vrydag na twee nuwe uitreikings in die rolprentteaters uitsien. Dit is The New Mutants, ’n gruwel-rilprent uit die Marvel-stal, wat in ’n verlate psigiatriese inrigting afspeel, en die musiekdrama The Song of Names.

Die plakkaat van die gruwel-riller “The New Mutants”

* In The New Mutants word ’n uiteenlopende groep tiener-mutante aangehou om in voeling met hul vreemde kragte te kom. Elkeen van die vyf het kort ná puberteit agtergekom dat hulle anders as baie ander tieners is – van hulle het mense vermoor, ander het ’n hele dorp uitgedelg. Tog is baie trauma betrokke soos van hulle hul ongelukkige kinderdae onthou. Hulle weet nog nie of hulle op mekaar kan steun nie, maar dan gebeur vreemde dinge. Hulle moet dus leer om saam te staan anders sal hulle sekerlik nie oorleef nie, en leer dat hul vaardighede nie net ’n kruis nie maar hul ware krag is. Dr. Reyes (Alice Braga) probeer hulle elke dag met terapiesessies op koers hou.

Scott Mendelson van Forbes meen dit is ’n eentonige, irrelevante prent, ’n vreemde hibried tussen gruwel en fantasie, wat nie lekker saamwerk nie. Hy meen min mense sal met dié inleiding na die twee opvolgprente uitsien. Amy Nicholson van New York Times skryf dit is soortgelyk aan ’n destruktiewe detensieklas en dat die prent mankoliek is.

Die ouderdomsperk is 16 vir gruwel, taal en geweld. Die tydsduur is 98 minute. Die spelers is Maisie Williams, Anya Taylor-Joy, Charlie Heaton, Alice Braga, Blu Hunt, Henry Zaga. Die regisseur is Josh Boone van Fault in Our Stars-faam.

*The Song of Names is ’n bekroonde prent oor ’n violis wat as ’n wonderkind bestempel is en later verdwyn het.

Tim Roth in ’n toneel uit “The Song of Names”

Die fliek van die regisseur François Girard is gegrond op die gelyknamige roman van Norman Lebrecht en handel oor Dovidl Rapoport, wat op negejarige ouderdom groot belofte as violis toon en aan ’n gesin in Warskou toevertrou word om hom kort voor die Tweede Wêreldoorlog teen die dreigende Nazi-inval in Pole te beskerm.

Martin, die gesin se seun wat ook nege is, en Dovidl raak ná ’n wankelrige begin boesemvriende. Hoewel Dovidl nooit weer van sy eie gesin hoor nie en die ergste vermoed, hoop hy tog hy sal hulle weer sien.

Dovidl se vioolspel ontwikkel sodanig dat hy in 1951 sy debuut in Londen sou maak. Die konsert is met fanfare aangekondig, maar daardie aand verdwyn Dovidl spoorloos en daag nie by die teater op nie.

Martin (Tim Roth), wat intussen ’n musiekeksaminator geword het, sien op ’n dag ’n leerling wie se strykstokhantering hom sterk aan Dovidl herinner.

Hy vermoed sy aangenome broer is destyds terug Pole toe, maar sy soektog in hul land van herkoms lewer niks op nie. Hy kry wel ’n wenk dat hy in New York moet gaan soek. Die violis wat al die vioolspel in die prent behartig het, is die Australiese Taiwanner Ray Chen.

Hoewel somber oomblikke in só ’n verhaal onvermydelik is, gaan dit hier hoofsaaklik oor liefde, vergifnis, aanvaarding en verlossing.

Die sukses van die prent word grotendeels aan die regisseur Francois Girard toegeskryf. Hy was ook aan die stuur van die Oscar-bekroonde The Red Violin, Boychoir van 2014 en Thirty Two Short Films about Glenn Gould (1993). Die komponis Howard Shore, wat die musiek vir The Lord of the Rings: The Fellowship of the Ring gekomponeer het, is ook die skepper van die musiek vir The Song of Names. Die titel verwys na ’n lied oor die name van mense wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in die Treblinka-kamp dood is.

Die prent het verlede jaar op die Toronto-rolprentfees gedebuteer en is vir nege Kanadese pryse benoem. Dit is uiteindelik met vyf pryse bekroon, onder meer vir Shore se komposisies en die beste oorspronklike lied, “The Song of Names” – Elretha Britz

Meer oor:  The Song Of Names  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.