Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Fliekvlooi: Juweel in plaaslike kroon van rolprente

Barakat met Vinette Ebrahim en Quanita Adams. Regisseur: Amy Jephta **** In teaters van 13 Mei. Beperking 13.

Hierdie meevoerende, menslike smarag van ’n komedie is, naas My Octopus Teacher, die verrassing van die jaar. Dit gaan oor ’n disfunksionele Moslem-gesin met ’n stewige matriarg, briljant gespeel deur Vinette Ebrahim, aan die hoof. Sy wil weer trou twee jaar ná haar geliefde man se dood.

Hoekom mag ouer vroue nie ook ’n tweede kans kry nie?

Die probleem is haar uitgebreide gesin (sommige baklei oor niks!), en in die Moslem-geloof glo sy dat sy hulle almal se toestemming nodig het vir die troue. Hierdie tragikomedie ontgin hoe elk van die doodgewone slenterstap-mense reageer en die klein katastrofes wat hul lewens befonkfaai.

Benewens die uitmuntende draaiboek deur Amy Jephta en Ephraim Gordon, getemperde regie deur Jephta en uitstaande spel van almal (veral die uitsonderlike Quanita Adams, waar elke sproet ’n meesterstuk is!), is dit die kinematografie van Ebrahim Hajee en natuurlike, funksionele stelinkleding wat van Barakat een van die beste komedies van die jaar maak.

Daar is geen dwelms nie, geen clichés, geen poeperige windjies nie. Daar is weinig swetswoorde en geen kommingeit nie. Jy kuier saam met herkenbare, normale mense wat net probeer om ’n struikelblok uit hul pad vol tradisies te kry.

Die nuuskierige kamera, wat die kyker verteenwoordig en elke voorwerp terloops vasvang, is die eintlike ster. En die soms woordelose komedie! Dit dien as voorbeeld vir die platvloerse plaaslike komedies waarmee ons dikwels opgeskeep sit. Snaaks hoef nie noodwendig kommin te wees nie, “al hou die mense daarvan”.

’n Voorbeeld is die toneel waar ’n paartjie in die bed lê. Voordat Mammie inkom, skop Ra-eesah (Adams) haar man uit die bed sodat hy op die vloer moet slaap. Wanneer Mammie klop om te hoor hoe dit gaan, woerts hy terug in die bed met sy arm om Ra-eesah. In hierdie kosbare toneel sien ons hoe lief die twee mekaar eintlik het voordat die deur toegaan en hy weer op die vloer beland. Dit is in hierdie noukeurig-geregisseerde, respekvolle tonele, sonder om vulgêr snaaks te probeer wees of gesigte te trek, waarin die rolprent se sterkpunte lê.

Nog ’n hoogtepunt is die warmhartige Boeta Maan (wat ’n natuurlike vertolking!) wat die twee broers agterin sy bakkie vol hoenders prop. Ons beweeg terug na die Jamie Uys-era toe twee klipgesig-karakters tussen pluimvee sit en nie besef hoe potsierlik hulle eintlik is nie. Die hoender op ’n bra se kop is weergaloos snaaks, want die regisseur neem net waar sonder om gedwonge en neerbuigend te interpreteer.

Die komposisie van voorwerpe/mense op die skerm, (soos wanneer die dokter, wat met Mammie wil trou, en die ma hul toekoms op die stoep bespreek), is ’n voorbeeld van ongedwonge, terloopse regie waar die karakters en die storie belangrik is, nie die lagbuie uit die gehoor nie. Die gehoor grinnik dus nie vir die mense nie, maar deerniswekkend saam met hulle.

As jy keelvol is van platvloerse komedie waar die karakters en die toiletpapier-dun storietjie altyd dieselfde kleinhuisie-pad volg, verlustig jou in hierdie mens-mense wat maar net wil hê Mammie moet gelukkig wees. En hoe durf iemand anders, selfs ’n geleerde dokter, hul pa se plek inneem?

Vergelyk ook die natuurlike gesprek rondom Pa se graf, die ongedwonge dialoog, in tipiese Afrikaaps (dus eg Kaaps), die respek wat die karakters, ten spyte van verskille, vir mekaar het, en die netjiese huis waarin gelééf word, en nie as ’n filmstel opgetert is nie, en jy het ’n wenner.

Barakat beteken seëninge waar mense ’n diep respek vir mekaar het. Hoe bevoorreg is die groep dat daar geen smokkelary of geldwassery is nie. Net volwaardige mense wat mekaar liefhet en hul famieliebande respekteer.

Die spesery-toneel verteenwoordig eintlik die hoeveelheid kulture en geite wat almal onder een dak saamgevoeg word. Maar verwys ook na die ander barakat, wat in die volksmond beteken oorskietkos wat saamgevoeg word en huis toe geneem word. Dit is tradisie, en hierdie karakters is nie noodwendig oorskietkos nie, maar ’n jolige mengsel van talle mense wat net van geweet wil wees. En saam vorm hulle die uitspattigste rolprentdis van die jaar.

Barakat is ’n juweel wat skitter in sy menslikheid. Wat ’n belewenis!

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Flieks  |  Barakat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.