Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Fliekvoorskou: Nuwe vermaak vir oud en jonk

Vir die eerste keer in wat voel soos ’n baie lang tyd, word nie net een of twee nuwe rolprente vandeesweek op die plaaslike kringloop uitgereik nie, maar drie.

Dié nuwe aanbod sal beslis tot uiteenlopende gehore – van jonk tot oud – spreek.

• Pierce Brosnan, volgens sommige die beste akteur wat tot nog toe James Bond vertolk het, keer in The Misfits weer terug na ’n hoofrol, dié keer ’n berugte misdadiger wat saam met sy makkers hul hande op tonne goudstawe probeer kry.

Die enigste probleem is dat die goudstawe onder die een plek is wat misdadigers tot elke prys probeer vermy – ’n gevangenis! Daarby is die tronk in die Midde-Ooste geleë, waar streng wette en reëls volop is en misdadigers nie sommer met iets soos goudstawe by die voordeur uit wals nie.

Die eerste paar resensies wat die rolprent gekry het, is nie te positief nie, maar as jy hou van aksieflieks sal jy glo beslis vermaak word.

Dit duur 96 minute, het ’n ouderdomsbeperking van 16 (dwelms, geweld, taal), en word in 2D uitgereik.

• As die spanning van ’n aksierolprent vir jou een te veel is, sal jy dalk van In the Heights hou, die rolprentweergawe van Quiara Alegría Hudes en Lin-Manuel Miranda se gelyknamige musiekspel.

Die rolprent fokus op ’n groepie karakters in Washington Heights, ’n buurt in Manhattan, in die stad New York. Een van hulle, Usnavi (vertolk deur Anthony Ramos), droom grootoog van ’n lewe met baie geld, sy droomvrou aan sy sy, en om na die Dominikaanse Republiek, sy tuisland, terug te keer.

Dit is deur dié drome – natuurlik ook die musiek en dans – wat gehore aan liefde, geborgenheid, hoop en die belangrikheid van omgee vir mekaar herinner word.

Resensente is versot op die eindproduk: Ná 119 resensies het die fliek ’n punt van 97% op Rotten Tomatoes gekry.

Maak gereed om lank te sit, die fliek duur 143 minute. Die ouderdomsbeperking is 7-9 OL (taal) en dit word in 2D uitgereik.

• Die jongspan sal in alle waarskynlikheid hul oë op die animasierolprent Spirit Untamed hê.

Dit vertel die verhaal van Lucky (wie se stem deur Isabela Merced verskaf word), wie se ma, ’n waaghals wat toertjies met perde uitvoer, sterf.

Wanneer sy saam met haar tannie na ’n dorpie verhuis, verloor Lucky haar hart op ’n perd met die naam Spirit, en sy probeer alles in haar vermoë om hom te red wanneer ’n bose dierehanteerder sy hande op Spirit wil kry.

Meer as 500 fliekgangers het die rolprent reeds ’n punt van 97% op Rotten Tomatoes gegee, hoewel rolprentkritici nie so in hul skik met die fliek is nie.

Dit duur 88 minute, die ouderdomsbeperking is OL (weens geweld), en dit word in 2D uitgereik.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: rottentomatoes.com, imdb.com, numetro.co.za, sterkinekor.com
Meer oor:  Anthony Ramos  |  Lin-Manuel Miranda  |  In The Heights  |  Fliek  |  Pierce Brosnan  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.