Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Frenetiese ooraanbod van rolprente boet gehalte in
Robert De Niro in ‘Raging Bull’.

Is die dae van die klassieke rolprent getel? ’n Rolprent soos byvoorbeeld Raging Bull, wat verlede jaar vier dekades oud was? Is daar nog epogmakende prente wat jou lank bybly? Emile Joubert besin oor kitsprente en rolprentkyk op stromingsdienste. 

Die opsies vir ’n hedendaagse fliekvlooi is onbepaald en eindeloos. ’n Paar vingerdanse op die elektroniese apparaat van keuse, en honderde moontlikhede vir filmiese vermaak verskyn binne ’n nanosekonde. Dit is, soos wat elke aspek van die onomkeerbare digitale gety is, ’n sneltrein van keuses op een skerm. Met gedurige aanbevelings van “gewildste fliek van die week”, “keuse nommer een”, “jy sál hiervan hou”, is die versoeking ook daar om nie te tob oor jou nuwe rolprentkeuse nie.

Raak jy binne tien minute sat vir die storielyn of die toneelspel, is dit net een kliek na die tuisskerm en dan rol die volgende fliek. Dis hoe ek vandag se rolprentaanbiedings vind – een oog in en ander oog uit.

Gerieflik soos dit mag wees, laat hierdie wisselende en frenetiese ooraanbod van rolprente – nuut en oud – my wonder of die dae van die klassieke rolprent nie getel is nie? Daardie epogmakende flieks wie se uitreiking voorafgegaan is deur bedeesde roeringe van grootheid en waaroor daar ná die uitreiking en resensies skaars oor niks anders gepraat is deur rolprentliefhebbers nie. En, meer belangrik, rolprente wat oor drie, vier dekades en meer onthou word. Flieks waarna ’n mens terugkeer, en wat ’n mens in elke verskillende fase van jou lewe met ’n nuwe gemoed, gevoel en waardering ervaar en bewonder.

Vanjaar is dit net meer as vier dekades sedert een van hierdie epogmakende klassieke rolprente uitgereik is, naamlik Raging Bull. Hierdie meesterstuk vertel die ware verhaal van Jake LaMotta, die Amerikaanse bokser wat in die 1940’s en 1950’s een van die voorste middelgewigboksers was. Maar wie ook ’n besonder swak man was wat sy minderwaardigheidsgevoel, lewenswoede en selfhaat uitgehaal het op sy teenstanders deur hulle in die kryt te vermorsel.

’n Toneel uit ‘Raging Bull’.

Ja, ’n storie met potensiaal, vir seker. Maar die feit dat twee van die briljantste mense in die geskiedenis van die rolprentkuns hierdie storie opgetel en daarmee geloop het, het van Raging Bull die meesterstuk gemak wat dit vier dekades later steeds is.

Die akteur Robert De Niro en regisseur Martin Scorsese het die vennootskap wat hulle in Mean Streets (1973) en Taxi Driver (1976) begin het hier voortgesit. En, soos wat destydse samewerkings tussen hierdie twee betaam, vir die wêreld ’n rolprent gegee soos wat nog nooit tevore gesien is nie.

De Niro se vertolking van LaMotta is steeds een van die wonders van die kinematiese kuns. Op ’n fisieke vlak het hy ’n seningrige, straatvegter-intensiteit na elke bokstoneel gebring. Sy ontsaglike wreedheid teenoor teenstanders word afgewissel deur lyfbewegings wat op ’n manier grasieus en skone ballet is. Hierdie kunstige klad is aangevul deur Scorsese se besluit om Raging Bull in swart-wit te verfilm – ietwat van ’n kommersiële waagstuk in die luide, kleurryke 1980’s, maar wat op die ou end die rolprent net meer laat uitstaan het.

Die genadelose manier waarop LaMotte sy werk in die kryt doen het, is afgewissel deur sy ewe veglustige persoonlikheid in die private lewe. Hier is dit sy vrou Vikki, gespeel deur die blondine Cathy Moriarty en LaMotta se broer, Joey (Joe Pesci), wat LaMotta se jaloesie, neerslagtigheid en plein bedonderdgeit moet trotseer.

Vir my is een van die treffendste tonele waar Vikki vir Jake sê sy meen dat sy volgende boksteenstander, die Fransman Marcel Cerdan, “nogal ’n aantreklike ou is”. LaMotta vra sy vrou op tipies neurotiese manier wat sy nou presies bedoel het deur te sê ’n ander man is aantreklik. Dit is dan ongelukkig Cerdan wat in die kryt met LaMotta se jaloesie te doen kry. Terwyl hy die Fransman se neus rangskik en oë laat bloei met verwoestende vuishoue, kyk LaMotta met genot uit die kryt uit na waar Vikki die vermorseling in afgryse aanskou, die straf vir haar onskuldige uitlating.

Nooit ’n ou vir die maklike uitweg nie, het De Niro 30 kilogram aangesit om die ouer LaMotta te speel, maar ook op briljante en geloofbare wyse die pyn, verdriet en hartseer van die voormalige vegter uitgestraal. Gevolglik was 1981 seker die maklikste besluit tot nog toe wat die Oscar-paneel gehad het om die beste akteur van die jaar aan te wys.

Die teenpool vir LaMotta se verwyt, aggressie en innerlike stryd word afgewissel deur die verskyning van die Tragiese Monster. Hier is LaMotta se roem as bokser ’n vae herinnering. Oorgewig, vuisvoos en eensaam, beweeg hy van nagklub na nagklub om stories te vertel van sy boksdae. ’n Paar grappies te maak.

Nooit ’n ou vir die maklike uitweg nie, het De Niro 30 kilogram aangesit om die ouer LaMotta te speel, maar ook op briljante en geloofbare wyse die pyn, verdriet en hartseer van die voormalige vegter uitgestraal. Gevolglik was 1981 seker die maklikste besluit tot nog toe wat die Oscar-paneel gehad het om die beste akteur van die jaar aan te wys.

Daar is, natuurlik, talle groot en klassieke en onvergeetlike rolprente, en elke liefhebber van hierdie kunsvorm het sy of haar toptien of -20. Ek gaan nie eens begin met my eie lys nie, hoewel bogenoemde fliek uiteraard onder hulle tel.

Die huidige uitdaging, egter, is om tussen die stortvloed stromingsdienste en eindelose fliekkeuses die groot en die goed en die meesterlik raak te sien. Want hulle moet tog altyd daar wees.

Meer oor:  Stromingsdienste  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.