Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Frozen 2’ gewildste animasiefliek in SA

Die animasiereus Disney se rolprent Frozen 2 is amptelik die gewildste animasierolprent van alle tye by die Suid-Afrikaanse loket.

Volgens ’n mediaverklaring deur The Walt Disney Company se Afrika-vleuel is die rolprent, wat op 6 Desember hier uitgereik is, tot dusver deur 718 000 mense gekyk en het dit meer as R53 miljoen by die Suid-Afrikaanse loket verdien.

Dit het daarmee die vorige rekordhouer, Disney en Pixar se Incredibles 2 (2018), onttroon.

“Ons is verheug oor gesinne en aanhangers van alle ouderdomme se reaksie op Anna, Elsa, Kristoff, Olaf en Sven (karakters in die rolprent) se asemrowende animasie-avontuur,” sê Christine Service, adjunkhoof van Disney in Afrika, in die mediaverklaring.

Hoewel die nuwe weergawe van The Lion King verlede jaar deur meer as 1,5 miljoen fliekgangers in Suid-Afrika gekyk is en eindelik meer as R121 miljoen by die plaaslike loket verdien het – die meeste van enige fliek – het Jared Stokes, woordvoerder van Disney in Afrika, aan Netwerk24 gesê dat Frozen 2 steeds die voorloper in die animasiekategorie is omdat die nuwe weergawe van The Lion King nié ’n animasierolprent is nie.

The Lion King word weens die tegnieke wat in die rolprent se vervaardiging gebruik is, nie as ’n animasierolprent beskou nie,” sê hy.

Dié tegnieke sluit benewens fotorealistiese, rekenaar-gegenereerde beelde ook virtuele rolprentstelle in wat die regisseur van The Lion King, Jon Favreau, toegelaat het om deur middel van skynwerklikheidstegnologie op die stelle te “loop”. Dít is dus nie ’n “ware” animasierolprent nie.

Hoewel kritici nie gaande oor Frozen 2 is nie – ook hier op Netwerk24 waar SZ Minnaar dit as “effe louwarm” beskryf het – het dit sakke vol geld wêreldwyd laat inrol.

Volgens die webwerf Box Office Mojo het die rolprent eindelik meer as $1,4 miljard wêreldwyd by die loket verdien – meer as die sowat $1,28 miljard wat die eerste aflewering in 2013 verdien het.

Hoewel Forbes berig aanhangers kan Frozen 3 “oor ’n paar jaar verwag”, is nog ’n aflewering in die reeks nog nie bevestig nie.

Meer oor:  Animasie  |  The Walt Disney Company Africa  |  The Lion King  |  Disney  |  Flieks  |  Frozen 2
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.