Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Gaan ‘Nomadland’ by Golden Globes koning(in) kraai?

Fliekgangers en TV-kykers wêreldwyd is slaggereed vir die eerste groot rolprent- en TV-prysuitdeling van die jaar – die Golden Globes.

Dié toekenningsgeleentheid, wat vir die 78ste keer deur die Hollywood Foreign Press Association aangebied word, vind Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) plaas.

Suid-Afrikaners wat baie vroeg uit die vere is (of nie kan slaap nie), kan dit regstreeks om 03:00 op M-Net Movies 1 (DStv-kanaal 104) volg. Dit word ook later dieselfde dag om 22:30 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

Die toekenningsgeleentheid word vanjaar weens die Covid-19-pandemie vanuit twee stede uitgesaai: Die aktrise en komediant Tina Fey sal die fort aan die Amerikaanse ooskus vanuit New York hou, terwyl die aktrise en komediant Amy Poehler die geleentheid aan die weskus vanuit Beverly Hills sal aanbied. Dit is nog nie bekend of die geleentheid virtueel aangebied sal word nie.

Wat wel bekend is, is dat fliek- en TV-vrate uiteindelik sal uitvind wie vanjaar met Golden Globe-pryse bekroon sal word – en daarmee saam wie die voortou om ’n Oscar-prys neem, wat vanjaar op 25 April uitgedeel word.

In die rolprentkategorie sal alle oë op die drama Nomadland wees, wat vir slegs vier pryse benoem is, maar reeds op talle ander rolprentfeeste meer as 70 pryse gewen het.

Chadwick Boseman gaan in alle waarskynlik postuum vir sy rol in ‘Ma Rainey’s Black Bottom’ ’n Golden Globe wen. Foto: Netflix / nytimes.com

Die Chinese regisseur Chloé Zhao kan naas Barbra Streisand in 1983 vir Yentl, slegs die tweede vrou word wat die beeldjie vir beste regisseur wen.

Daarmee saam kan die aktrise Frances McDormand vir haar hoofrol in die rolprent die tweede Golden Globe van haar loopbaan wen.

Nomadland, wat die verhaal vertel van ’n vrou wat haar werk weens die Groot Resessie verloor en dan gedwing word om ’n nomadiese leefstyl aan te neem, kan ook die prys vir beste drama wen, wat Zhao en McDormand bykomende beeldjies sal besorg omdat hulle ook albei medevervaardigers van die rolprent is.

Kenners en rolprentliefhebbers op die webwerf Gold Derby, waar die wenners van groot Amerikaanse prysuitdelings voorspel word, dink egter dat slegs Zhao die prys vir regisseur gaan wen.

Die Netflix-drama The Trial of the Chicago 7 het 1 700 stemme op die webwerf gekry en sal daarom die prys vir beste drama wen. Nomadland het in dié kategorie op die webwerf slegs 1 246 stemme (soos op 26 Februarie). Carey Mulligan het met 2 436 stemme ook die grootste kans om die Golden Globe vir beste aktrise in ’n drama te wen vir haar rol in Promising Young Woman. McDormand het daarteenoor net 357 stemme.

In die kategorie vir beste akteur in ’n drama loop die ontslape akteur Chadwick Boseman met 2 771 stemme vir sy rol in Ma Rainey’s Black Bottom loshande voor. Boseman (43) is in Augustus verlede jaar aan kolonkanker dood.

Anya Taylor-Joy kry net lof vir haar rol as ’n skaakkampioen in die TV-reeks ‘The Queen’s Gambit’. Gaan sy ook ’n Golden Globe ryker word? Foto: Netflix / ew.com

In die kategorie vir komedierolprente staan Borat Subsequent Moviefilm glo die beste kans om skoonskip te maak, nie net in die kategorie vir beste komedie nie, maar ook beste akteur (Sacha Baron Cohen) en beste aktrise (Maria Bakalova).

Die Gold Derby-kiesers raai dat die rolprent Soul die prys vir beste animasierolprent sal wen.

In die kategorie vir TV sal Netflix glo sterk na vore tree. Die drama The Crown kan verspot maklik die prys vir beste dramareeks, beste aktrise in ’n dramareeks (Emma Corrin) en beste byspeelster in ’n TV-reeks (Gillian Anderson) wen.

The Queen’s Gambit sal ook in alle waarskynlik die prys vir beste beperkte reeks en beste aktrise in ’n beperkte reeks (Anya Taylor-Joy) kry.

Die komedie Schitt’s Creek, wat verlede jaar ten einde geloop het, kan glo solank plek in sy vertoonkas vir twee pryse maak: beste komedie en beste aktrise in ’n komedie (Catherine O’Hara).

Dít is egter alles net bespiegelinge en vermoedens – beroepswedders sal eers Maandag uitvind wie volgens die HFPA die ware wenners is.

– Bykomende bronne: hollywoodreporter.com, latimes.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.