Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Geslag weer onder die loep by Cannes

Vier vroueregisseurs se flieks ding vanjaar in die hoofkompetisie van die Cannes-filmfees om die gesogte Palme d’Or-prys mee.

’n Toneel uit ‘Benedetta’ oor lesbiese nonne in die 17de eeu in Italië.
Die negejarige Rakel Lenora Flottum wat die hoofrol in die Noorweegse film ‘The Innocents’ speel.

Dit is vier uit 24 regisseurs, wat soos in vorige jare weer ’n genderkwessie onder bespreking is.

In die 74 jaar van die Cannes-fees se bestaan het nog net een vroueregisseur die Palme d’Or gewen, Jane Campion vir The Piano in 1993.

In antwoord op die diskoers het die feesdirekteur Thierry Frémaux gesê hy is die eerste om te erken die getal vroueregisseurs is nie genoeg nie, maar bygevoeg dat die fees teen kwotas gekant is.

“Geen fliek sal ooit op grond van die regisseur se geslag, ras of geloof gekies word nie, maar as ons tussen twee flieks van dieselfde gehalte moet kies en die een is deur ’n vrou geregisseer, sal sy wen.”

Dié genderkwessie is egter vanjaar ondergeskik aan die belangstelling in die flieks wat op die fees in Frankryk vertoon word.

• Baie oë is gerig op Benedetta deur die Nederlandse regisseur Paul Verhoeven wat in 1992 met die verleidelike Basic Instinct op die Cannes-fees gedebuteer het.

Benedetta is sy tweede Franse fliek ná Elle wat in 2016 in die kompetisie-afdeling meegeding het en aan Isabelle Huppert ’n Oscar-benoeming as beste aktrise besorg het.

Virginie Efira vertolk ’n omstrede 17de-eeuse Italiaanse non in Benedetta, ’n verhaal geskoei op Judith C. Brown se akademiese werk Immodest Acts: The Life of a Lesbian Nun in Renaissance Italy.

• Where is Anne Frank is die derde fliek deur die Israelse regisseur Ari Folman wat vir die Cannes-fees aanvaar is. In 2008 het Waltz with Bashir in die kompetisie-afdeling gewys en in 2013 The Congress in die regisseursafdeling.

Anne Frank handel oor Kitty, die verbeelde maatjie in die jong Anne se dagboek uit die Tweede Wêreldoorlog. Anne was die dogter van ’n Joodse gesin wat twee jaar op die solder van ’n winkel in Nederland weggekruip het waar die Nazi’s hulle gevind het en na konsentrasiekampe in Duitsland gestuur het.

In die fliek onderneem Kitty egter ’n reis deur die hedendaagse Europa.

• Die Noorweër Eskil Vogt is vanjaar by twee flieks op die fees in die Franse kusstad betrokke, as regisseur van The Innocents en medeskrywer van die bekende Deen Joachim Trier se prent The Worst Person in the World.

The Innocents is ’n bonatuurlike riller oor vier kinders se onskuldige speletjies wat ’n abnormale wending neem wanneer hulle spesiale kragte en magte ontwikkel.

Die aktrise Ellen Dorrit Petersen wat in Vogt se Sundance-wenner Blind gespeel het, het ook ’n rol in The Innocents, maar dit is haar dogter Rakel Lenora Flottum wat die aandag as die negejarige Ida steel.

• Titane is die produk van Julia Ducournau wat in 2016 met Raw in Cannes deelgeneem het.

Die titel dui op die metaal titanium en die intrige gaan oor ’n reeks moorde en ’n jong man wat tien jaar ná sy verdwyning terugkeer. Vincent Lindon en die nuweling Agathe Rousselle vul die hoofrolle.

• Jean-Christophe Meurisse se Bloody Oranges is ’n swart komedie oor ’n danspaar, Blanche Gardin en Denis Podalydes, wat vasbeslote is om ’n kompetisie te wen.

Meer oor:  Elle  |  Basic Instinct  |  Fliek  |  Cannes  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.