Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Glorieryke prent van Almodóvar wat pyn belig
Antonio Banderas in die rol van Salvador in Pain & Glory.

Pain & Glory

Drama

****

Oor doepa teen die aftakeling deur die ouderdom het die skrywer Jan Rabie geskryf van die behoud wat lê in “aanhou beweeg en geraas maak”, en die digter Dylan Thomas het met sy “rage, rage against the dying of the light” van ’n tipe gatskop-ingesteldheid gedig.

Die Spaanse rolprentmaker Pedro Almodóvar se Pain & Glory is ’n filmiese antwoord op “die kil afdraand van die dag” (Alba Bouwer).

In die twee woorde van sy titel som Almodóvar die lewe ondermaans bondig op. Hy noop ’n Desembervoos-resensent om na die poësie en letterkunde te gryp as repliek op ’n wonderskone prent wat die emosies en sinne soos ’n violis bestryk. ’n Mens beleef die prent soos ’n simfonie in verskeie bewegings. Dit handel oor Salvador, ’n middeljarige regisseur (Antonio Banderas) wat terugkyk op sy lewe – hy verkeer gedurig in fisieke pyn, sy rug keil hom op, sy algemene gesondheid gaan agteruit, sy emosies is verstrengel in nostalgie en argeloosheid.

Dit blyk dat hy in ’n stiltegordel is met sy werk. Is sy gloriedae dan verby? Waar is sy naastes, familie en vriende dan? Almodóvar is Spanje se bekendste rolprentmaker, ’n auteur met ’n unieke aanslag in sy geil rolprentkuns – dink aan die emosionele oordaad en rykheid van All About My Mother of Talk to Her. Hierdie een is egter in ’n mineur toonaard.

Banderas en Penélope Cruz is van Almodóvar se muses. Hulle stel hier nie teleur nie. Banderas speel met nuanse, intimiteit, teerheid en volslae oorgawe. Die toneel met ’n eertydse minnaar op besoek is aangrypend onderspeel en die ryk suggestie is voelbaar. Cruz, as Salvador se ma, is vurig, bekkig en ’n vegter vir haar seun. Hul verhouding is ’n spilpunt in die lieflike prent.

Almodóvar is nou net verby 70. Sy hare staan in ’n witgrys krans op sy kop – in talle onderhoude het hy laat blyk dat sy prent oorwegend outobiografies is, maar tog met fiksie vermeng. Dit neem die kyker van Salvador se arm kinderjare in ’n witgekalte grot tot sy middeljare waar almal ver en sy loopbaan aan die taan is. Hy het pas sy geliefde moeder verloor. Hy word omring deur welvaart, pragtige reuse-skilderye (skynbaar Almodóvar se eie versameling), maar net ’n huishoudster en sekretaresse sien na hom om.

Pain & Glory is een van Amodóvar se grotes – dit wys hoe ’n jong seun die rolprentkuns vind en oplaas hoe dit ’n kunstenaar opnuut in sy middeljare verlos.

Meer oor:  Antonio Banderas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.