Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
GoDriveIn danksy vlak 3 weer in volle gang

Die bestuur van die GoDriveIn-inryteater in Soutrivier, Kaapstad, sê ook hulle is verlig dat hulle ná vier weke uiteindelik weer hul deure kan oopmaak.

Só lyk dit by ’n GoDriveIn-vertoning in Soutrivier.

Dié inryteater was soos talle ander inry- en rolprentteaters gedwing om hul deure tydelik te sluit nadat pres. Cyril Ramaphosa die vlak 4-inperking op 27 Junie aangekondig het. Hy het dit eers op 25 Julie na die aangepaste vlak 3-inperking afgegradeer, wat inry- en rolprentteaters die groen lig gee om weer sake te doen.

Volgens Grant de Sousa, GoDriveIn se hoof, het hulle eintlik probeer om weer op 23, 24 en 25 Julie – kort voordat die aangepaste vlak 3-inperking aangekondig is – weer vertonings aan te bied, maar hulle is weens “druk deur amptenare” eindelik gedwing om dié vertonings te skrap.

“Die ateljees by wie ons regte bekom (om rolprente te vertoon), wou weens regulasies in die Staatskoerant wat kulturele byeenkomste verbied, nie in dié tyd lisensies aan ons uitreik nie,” sê hy.

“Dié benaming (kulturele byeenkoms) is ’n baie wye konsep. Ongelukkig word daar nie in die Staatskoerant spesifiek na inryteaters verwys nie en ons word meestal as deel van ‘rolprentteaters’ geklassifiseer, wat na my mening uit ’n Covid-perspektief onregverdig is: Mense sit in hul motors en is nie binnenshuis saam in een vertrek nie.”

Ramaphosa het gelukkig net ’n dag of wat later aangekondig dat inryteaters wel weer mag open, maar ’n paar weke toe het beslis ’n invloed op hul geldsake gehad, sê De Sousa.

“Ons moes steeds oorhoofse koste betaal en wiele aan die draai hou omdat ons nie net ’n inryteater is nie, maar ook ’n padkafee. Almal van ons moes aan die gang bly, maar ons is veerkragtig en sal voortbeur.”

Inryteaters het sedert die begin van die Covid-19-pandemie weer vlam gevat in Suid-Afrika. De Sousa sê hulle is al genader om GoDriveIn-inryteaters in ander stede te open, maar die “regte geleentheid” het hom nog nie voorgedoen nie; hulle gaan daarom vir eers op Kaapstad fokus.

GoDriveIn-vertonings in Victoriastraat, Soutrivier, vind op Vrydag-, Saterdag- en Sondagaand om 18:30 plaas. Deure open om 17:00 sodat fliekgangers die beste staanplek vir hul motor kan kry en daar genoeg tyd is om aan ’n kosstalletjie en koffiewinkel se aanbiedinge te smul.

Kaartjies kos R190 per motor met ’n maksimum van vyf insittendes. Bespreek by Webtickets.

Meer inligting is op Facebook en die webtuiste beskikbaar.

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Flieks  |  Fliek  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.