Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Godslastering nie meer só aangedui by flieks, speletjies
Die logo van die rolprent- en publikasieraad.

Godslastering, aangedui met ’n G (of B vir “blasphemy”), gaan nie meer as ’n afsonderlike beperking aangedui word by rolprente en rekenaarspeletjies nie. Dit sal van Julie vanjaar af gesamentlik onder V vir vooroordeel (of P vir “prejudice”) ingesluit word.

By navraag het Lynette Kamineth, die mediabeampte van die rolprent- en publikasieraad, gesê die raad hersien al om die vyf jaar sy beleid oor ouderdoms- of ander beperkings om in pas te bly met veranderinge in norme en waardes van die publiek.

Riglyne word daar gestel vir verspreiders hoe hulle die inhoud van rolprente, speletjies en publikasies moet klassifiseer.

In die riglyne wat tot vanjaar gebruik is, was Godslastering ’n element wat bloot geloof reflekteer het. Onder vooroordeel (V), sê sy, gaan dit nie verlore nie. Dit word net onder ’n meer omvattende waarskuwing geplaas wat kykers waarsku teen tonele of taal wat bevooroordeeld is binne identifiseerbare groepe soos ras, etnisiteit, geslag, geloof, seksuele voorkeur, swangerskap, huwelikstaat, gestremdheid, kultuur, taal of geboorte.

Godslastering het volgens ’n berig van Business Insider South Africa 12% van klagtes uitgemaak in 2017. In dieselfde jaar het 14% van die klagtes oor taalgebruik gegaan en sowat 68% oor seks en naaktheid. Klagtes oor geweld is laag in vergelyking met enige van genoemde drie.

Godslastering het altyd onder die G enige iets ingesluit wat enige geloof onsensitief, aanstootlik, vernederend en sonder respek hanteer het. Waarskuwings word deur letters aangedui. So dui S seks, G geweld, T sterk taal en N naaktheid aan.

Op Netwerk24 word dit gewoonlik onderaan resensies van rolprente aangedui saam met ander inligting, byvoorbeeld ná die resensie van Shazam! is die volgende gebruik:

*Regisseur: David F. Sandberg. Met onder andere Zachary Levi, Mark Strong, Asher Angel, Jack Dylan Grazer en Djimon Hounsou in die rolverdeling. Tydsduur: 132 minute. Ouderdomsbeperking: 13 OL.

Volgens Kamineth gaan ’n volledige mediaverklaring oor die saak Donderdag uitgereik word.

Mense word genooi om die rolprent- en publikasieraad se webtuiste by www.fpb.org.za of www.fpbhotline.org.za te besoek vir inligting oor die verskillende klassifikasiesimbole en die veranderde riglyne. Vir inligting of om ’n klag te lê, stuur ’n e-pos na clientsupport@fpb.org.za of bel die kliëntediens by die dienssentrum 0800 000 555. – Mariana Malan

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.