Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Grondpad word roete na nuwe Afrikaanse rolprent

’n Onbeduidende grondpaadjie het gelei na die plek waar ’n nuwe Afrikaanse rolprent verfilm sou word.

Hendrik Cronjé (akteur, regisseur en skrywer) van Liewe Lisa, het aan die Weskus na ’n plek gaan soek waar die storie kon afspeel. Hy het dit eintlik al gevind toe hy verby die amper onsigbare paadjie ry. Hy was nuuskierig om te sien waarheen dit lei en toe vind hy die ideale plek.

“Dit is lieflik en het net die regte atmosfeer,” sê hy.

Gewoonlik soek die akteur wat die hoofrol speel nie na plekke om te werk nie, maar vir Liewe Lisa dra Cronjé drie hoede – draaiboekskrywer, regisseur en akteur.

Elani Dekker en Hendrik Cronjé in Liewe Lisa.

“Dit was moeiliker as wat ek gedink het. Voordat ons begin verfilm het, het ek nie die omvang van ek wou doen besef nie. Ek het baie geleer en is dankbaar vir die ervaring.”

Cronjé het die rol van Lucas Mulder in die sepie 7deLaan vertolk, maar hy wou eintlik nog altyd rolprente maak.

“Ek het al hierdie stories in my kop en ek wil hulle vertel. So sewe jaar gelede het ek begin om hulle neer te skryf, letterlik pen op papier gesit. Liewe Lisa is nie die eerste een nie, maar dis die een waarmee ek wou begin. Ek is ’n storieverteller en ek wil graag my stories vertel soos wat ek hulle sien.”

Liewe Lisa is die debuutrolprent van die produksiemaatskappy Kompanjie Stories van die broers Hendrik en Johan Cronjé. Volgens Hendrik wil hulle oorspronklike en ware stories vertel.

Die draaiboek is geïnspireer deur die rolprent The Graduate (1967).

Hendrik vertolk die rol van Daniel in die film. As skrywer, was dié karakter in sy brein gegiet. Hy het presies geweet hoe Daniel moes wees. Die regie van die film was nooit vir hom onderhandelbaar nie, aangesien hy homself eerstens as ’n regisseur beskou, tweedens as ’n skrywer en derdens as ’n akteur.

In hierdie liefdesverhaal is daar ’n jong man op die vooraand van die regte lewe, maar hy het ’n geheime droom om ’n skrywer te word. Hy soek na opwinding en knoop ’n buite-egtelike verhouding aan met ’n invloedryke sakeman se vrou.

Wanneer die verhouding verby is, ontmoet hy vir Lisa (Elani Dekker), die dogter van dieselfde sakeman. Teen sy beterwete raak Daniel verlief op Lisa. Die foute van sy verlede haal hom in en Daniel kies koers na waar hy ’n eenvoudige visserman Tom (Zane Meas) ontmoet.

Daniel verwyl sy dae deur vis te vang en om met Tom te gesels oor die lewe en die liefde en eindelik help Tom hom om sy ware potensiaal te bereik.

Ander akteurs in die rolprent sluit in Albert Maritz, Barbara-Marie Immelman, Stian Bam, Marco Spaumer en Crystal-Donna Roberts.

Die finale afronding word tans gedoen en dis vir Cronjé nogal moeilik om “klaar” te maak.

“Daar is altyd nog iets wat ek wil verander, maar gelukkig is daar iets soos ’n spertyd.”

*Die rolprent word op 14 Februarie volgende jaar uitgereik. Die lokprent is reeds op YouTube te sien.

Meer oor:  Stian Bam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.