Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Hemsworth-broer speel dalk rol van Gerrie Coetzee
Liam Hemsworth, ’n bekende Australiese akteur, is vervaardigers van die rolprent Gerrie se eerste keuse om die rol van Gerrie Coetzee te vertolk.Foto: GETTY

Die Australiese akteur Liam Hemsworth is heel bo aan die lys om die rol van Gerrie Coetzee (65) in ’n rolprent oor hierdie legendariese bokser te vertolk.

Vervaardigers van die fliek Gerrie is in die proses om met dié bekende akteur oor die rolvertolking te gesels.

“Hy is ons eerste keuse, maar dit is nog glad nie bevestig nie. Ons Amerikaanse vennote wil baie graag hê ons moet hom nader en ons is besig met daardie proses,” sê André Scholtz, die Suid-Afrikaanse vervaardiger van die rolprent.

Suid-Afrika het Afrika se eerste swaargewigbokskampioen opgelewer – en nou gaan die lewe van Coetzee in ’n rolprent vasgevang word.

Coetzee het Michael Dokes, toenmalige swaargewigbokskampioen, in 1983 in die tiende ronde van hul boksgeveg van 15 rondes om dié titel in Ohio, Amerika, uitgeknikker.

Die rolprent gaan ’n intieme blik op die lewe van Coetzee bied en sy toewyding om die topplek in die bokswêreld te beklee.

Koos Roets, bekend om sy rolprente soos Faan se trein en ’n Pawpaw vir my darling, is die regisseur van Gerrie. Die uitvoerende vervaardiger is Kenddrie Utuk van die Amerikaanse rolprentmaatskappy Fontabila Productions wat Scholtz opeens genader het om die rolprent in Suid-Afrika te vervaardig.

Scholtz het verlede jaar vyf dekades in die plaaslike rolprentbedryf gevier en sy naam is aan rolprente soos Die Wonderwerker en Meerkat Maantuig gekoppel.

Scholtz verduidelik dat Hemsworth die eerste keuse is vir die hoofrol, omdat hy min of meer dieselfde lengte as Coetzee is en amper soos hy lyk.

“Uit die aard van die saak probeer jy ’n gesoute akteur met sterstatus kry. Omdat dit ’n Suid-Afrikaanse verhaal is, is dit belangrik dat ons probeer om dit so ver as moontlik in die wêreld te versprei.”

Hierdie foto is geneem in die opbou tot Gerrie Coetzee se wêreldbekerkampioen-titel in 1983 in Ohio. Van links is Willie Lock (Coetzee se afrigter), Coetzee, Cedric Kushner (die Kaapstadse prokureur wat destyds deel was van Don King’s Promotions) en Thinus Strydom (Coetzee se bestuurder).Foto: Verskaf

’n Alternatief is ’n bokser wat kan toneelspeel óf ’n akteur wat opgelei word om te kan boks, mits hy ook soos Coetzee lyk.

Vervaardigers soek ook nou na ’n Amerikaanse akteur vir die rol van Don King, die bokspromotor.

Die Covid-19-pandemie bepaal egter wanneer die produksiespan aan die rolprent gaan begin skiet, sê Scholtz.

“Die mikpunt is om in Oktober die kameras te begin rol en dit maand vir maand te vat.”

Die rolprent sal in Suid-Afrika en Amerika verfilm word.

Hoewel Coetzee in Boksburg grootgeword het, sal die vervaardiging egter nie in dié stad plaasvind nie, maar in ’n soortgelyke omgewing. Die Wes-Rand is een van die liggings wat oorweeg word.

“Waar Gerrie in Boksburg gebly het, is daar elke drie minute ’n vliegtuig wat van Jan Smuts (O.R. Tambo-lughawe) af opstyg.”

Al is die voormalige bokser nie regstreeks by die vervaardiging van die rolprent betrokke nie, het skrywers en die regisseur baie tyd saam met hom bestee om die korrekte lewensverhaal oor te dra.

Roets het drie dae by Coetzee en sy vrou, Rina, in Table View in Kaapstad deurgebring om meer oor hom en sy lewe te leer.

“Hy is so ´n sagte ou siel – ’n mens kan nooit dink hy was ’n bokser nie. Hy is ook ’n baie groot

hondeliefhebber,” sê Roets.

Gerrie is nie ’n “boksfilm” nie, maar ’n menslike rolprent wat teen die agtergrond van boks afspeel, verduidelik Roets.

“Dit gaan basies daaroor dat Gerrie verskriklike struikelblokke gehad het. Dit gaan baie meer oor die mens as boks.”

Coetzee kon nie Woensdag vir kommentaar bereik word nie. Volgens sy vrou sou hy eers weer Maandag beskikbaar wees.

Coetzee het Maandag op Jacaranda FM se program Scenic Drive aan Rian van Heerden gesê hy wil graag hê hierdie rolprent moet eindig toe hy sy titel gewen en na Suid-Afrika teruggekeer het.

“Katinka Heyns (Suid-Afrikaanse aktrise, regisseur en rolprentmaker) het die draaiboek gelees en gehuil – sy het gesê dit is die beste draaiboek ooit,” het hy op die radioprogram gesê.

Meer oor:  Liam Hemsworth  |  Bokser  |  Akteur  |  Rolprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.