Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Hermanus werk saam met Britse Bill Nighy aan nuwe prent
Oliver Hermanus

Die Suid-Afrikaanse regisseur Oliver Hermanus se jongste rolprent, Living, het die Britse akteur Bill Nighy in die hoofrol.

Die rolprent is ’n moderne verwerking van die Japanse meesterregisseur Akira Koerosawha se 1952-prent Ikiru (om te lewe).

Dié eietydse verwerking is deur niemand anders nie as die Nobelprys-bekroonde Japanse skrywer Kazoe Isjigoero (The Remains of the Day) neergepen.

Dit volg die lewe van ’n middeljarige burokraat wat terminaal siek word en ’n allerlaaste poging aanwend om ’n sinvolle lewe te lei, al is sy bestaan hoe saai. Koerosawha, wat dit geregisseer het en gehelp het om die draaiboek te skryf, het dit op die novelle Die dood van Ivan Ilyich, ’n novelle van die Russiese skrywer Leo Tolstoi, gegrond.

Hermanus, wat regisseur van internasionaal gevierde prente soos Skoonheid, Endless River en Moffie is, beskryf die verhaal as tydloos en sê dat die projek hom “soos ’n handskoen pas”. Hy werk al die afgelope jaar aan die ontwikkeling daarvan.

Bill Nighy Foto: GETTY IMAGES

“Dit handel oor die dood, wat die betekenis van die lewe beklemtoon. So, dit is in wese ’n storie oor wat die lewe beteken. Dit is so in my kraal. Ek was aangetrek deur die briljante span verbonde aan die prent. Die oorspronklike prent is nou al klassiek. Isjigoero se herverbeelde storie ontsluit dit vir ’n eietydse gehoor.”

Die prent speel in ’n verwoeste Londen in die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog af. Dit is hier waar Nighy se karakter, ’n armsalige staatsdienswerker, hoor dat hy terminaal siek is. Met die hulp van ’n medewerker leer hy om die lewe opnuut aan te pak en in sy daaglikse sleurwerk en laaste dae iets sinvols te vermag.

“Die prent wys dat al blyk dit dat die mens se bydrae maar klein is in die groter geheel, is daar tog bereikbare doelwitte om ander te help en om na die goeie te streef,” sê Hermanus.

Nighy, bekend om sy vertolkings in Love, Actually, Emma en About Time, was reeds in Isjigoero se gedagtes terwyl hy aan die draaiboek gewerk het, sê Hermanus.

“Ek het die besluit ten volle gesteun toe ek my by die span aangesluit het. Gelukkig het hy dadelik belanggestel om deel van die prent te wees. Ek kan nie wag om te sien hoe Bill sy tande in die rol inslaan nie. Dit kan net hy wees.”

Teenoor Nighy in die rol van Margaret het Hermanus die Britse aktrise Aimee Lou Wood, uitskieter van die Netflix-komediedrama Sex Education, geplaas.

“Ek het die uitdaging gehad om die akteurs vir die prent gedurende die inperking te kies. Aimee Lou het dadelik uitgestaan en is perfek as Margaret, die volle span het ingestem dat dit sy moet wees. Ek was bly dat ek haar die rol kon aanbied.”

Hy glo die prent bring ’n unieke boodskap in die tyd van die pandemie en onrus wêreldwyd.

“Ons lewe in ’n tyd van onmiddellike bevrediging en sosiale media. Ek dink ’n rolprent wat ons wys waaroor die lewe eintlik gaan, kan nie méér tydig wees nie.”

Hy hoop om nog Suid-Afrikaners aan boord te kry vir die prent, maar net die tyd sal leer. Hy was die afgelope maande van die inperking in Suid-Afrika.

“Dit was goed om hierdie tyd te kon gebruik om Living te ontwikkel, aanvanklik sou ek met Moffie rondgereis het, maar om albei gelyktydig te doen, sou moeilik wees.

“Die inperking was geïsoleerd en eensaam, so ek is behoorlik aan die rev om weer op ’n rolprentstel te wees.”

Die prent word volgende jaar in die Britse lente verfilm. Die vervaardigers is Film4 en Ingenious Media in samewerking met Kurosawa Productions.

Meer oor:  Oliver Hermanus  |  Bill Nighy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.