Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Iets vir almal op Fugardteater se silwerdoek
Lily James en Gillian Anderson in All About Eve.

Die fynproewer, leek en almal wat ’n honger het na van die beste opera-, toneel- en balletproduksies in die wêreld kan hulle van Oktober tot diep in 2020 een keer ’n week aan dié uitvoerings op die Fugardteater se silwerdoek verkneukel.

Dit is wel die negende keer dat die Fugard Bioscope World Arts Cinema Season plaasvind, maar hierdie keer is opnames ingesluit van teaterhuise wat nie voorheen deel van die aanbod was nie.

Die seisoen behels 48 regstreekse opnames van verhoogproduksies soos die gehoor dit gesien het. Jy kan jou dus ’n paar uur verbeel jy sit in die Bolsjoiteater in Moskou, die Royal Opera House in Londen of die Paryse operahuis.

Die vertoontye is elke Maandag om 15:00 en 19:00. 7 Oktober: All About Eve, waarin Gillian Anderson van X-Files-faam en Lily James (Mamma Mia! Here We Go Again) die hoofrolle vertolk, gaan oor die teaterlegende Margo Channing, totdat Eve op die voorgrond tree. Dié jong skoonheid hou ’n bedreiging in vir Margo wat ’n wêreld van jaloesie en ambisie open en jou laat wonder waarom mense so behep is met glanspersoonlikhede, jeug en identiteit. Ivo van Hove het die drama vir Londen se National Theatre geregisseer.

14 Oktober: Die Oscar Wilde-komedie Lady Windermere’s Fan speel af op haar verjaardagpartytjie wat ’n wending neem wanneer ’n vriend iets laat val wat haar laat wonder of haar man ’n skelm verhouding het. Samantha Spiro vertolk Mrs Erlynne en Jennifer Saunders die hertogin van Berwick. Kathy Burke het die komedie vir die Classic Spring Theatre Company geregisseer.

21 Oktober: An Ideal Husband, ook ’n Classic Spring Theatre-komedie, het pa en seun, Edward en Freddie Fox, in die werklike lewe, die rolle van pa en seun in die produksie gegee en met goeie gevolg – resensente was in vervoering. Jonathan Church is die regisseur.

28 Oktober: The Importance of Being Earnest, ’n klassieke Oscar Wilde-toneelstuk oor liefde, logika en taal het Sophie Thompson (Four Weddings and a Funeral) en Jeremy Swift (Downton Abbey) in die hoofrolle.

4 November: Everybody’s Talking About Jamie is ’n goedvoel-musiekspel oor die 16-jarige Jamie wat nie inpas op die landgoed waar hulle woon nie. Met die hulp van sy liefdevolle ma en vriende oorkom hy vooroordeel en boelies en betree die kollig as ’n fopdosser. Dan Gillespie Sells het die musiek geskryf en Tom MacRae die lirieke.

11 November: Tamara Rojo, hoofsolis van die English National Ballet, vertolk Giselle in die choreograaf Akram Khan se herverbeelding van dié romantiese ballet.

Die Oscar-bekroonde Tim Yip (Crouching Tiger, Hidden Dragon) het die kostuums en verhoogdekor ontwerp.

18 November: Fleabag is ’n solovertoning deur Phoebe Waller-Bridge oor die lewe van dié aweregse vrou wat ondanks probleme uit alle oorde haarself laat geld. ’n National Theatre-produksie.

25 November: Internasionaal bekende sangers en nuwelinge is op die Royal Opera House-verhoog te sien in Mozart se opera Don Giovanni. Hartmut Haenchen dirigeer die arias en ensembles in die gewilde tragikomiese opera.

2 Desember: Small Island is ’n verhoogverwerking van Andrea Levy se gelyknamige bekroonde en roerende roman. Die verhaal begin in Jamaika, beweeg deur die Tweede Wêreldoorlog en eindig in Brittanje. Drie lewensverhale speel uit: Hortense begeer ’n lewe weg van Jamaika, Gilbert wil ’n regsgeleerde word en Queenie wil van haar Lincolnshire-wortels ontvlug.

9 Desember: ’n Gemengde balletprogam, Concerto/Enigma Variations/Raymonda deur die Royal Ballet, is gegrond op Marius Petipa se choreografie vir Raymonda, Frederik Ashton se Enigma-variasies en Kenneth MacMillan se Concerto.

23 Desember: ’n Hoogtepunt is Rusland se Bolsjoi-balletgeselskap met Die Neutekraker. Die solis Margarita Shrainer en hoofdanser Semyon Chudin sal jonk en oud met hul vertolking en dansvernuf vermaak.

* Die kaartjies kos R120 en kan bespreek word by die Fugard-teater by 021 461 4554 of aanlyn by www.thefugard.com.

Meer oor:  Flieks  |  Fugard-Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.