
Nicolas Cage speel ’n hoofrol in Jiu Jitsu, wat van Vrydag in die Ster-Kinekor-inryteater by die V&A Waterfront vertoon gaan word.
’n Inryteater wat saans én bedags rolprente gaan vertoon, is pas ingerig by die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad. ’n Groot skerm, wat ’n hoëresolusie-beeld verseker met klank wat deur jou motor se radio opgevang word, maak die ervaring ekstra genotvol en veilig te midde van die koronavirus-pandemie.
Die nostalgiese fliekkyk-ervaring word met die samewerking van Ster-Kinekor aangebied en die eerste rolprent, Jiu Jitsu, word reeds Vrydagaand om 19:00 vertoon.
Nicolas Cage is te sien in dié aksieprent, waar kykers wat lief is vir Oosterse krygskuns getrakteer gaan word. Die jiu-jitsu-krygers bestaan al van antieke tye. Elke ses jaar moet hulle oorlog voer om hul voortbestaan asook dié van die planeet te verseker.
Kaartjies kos R250 per motor vir die nuwe rolprente en R220 vir ouer prente. Net passasiersvoertuie word toegelaat met een persoon per sitplek in die motor. Vir ’n bykomende R100 kan koeldranke en springmielies bestel word wat in verseëlde sakke verkoop word om gesondheidsredes.
Versnaperinge kan vooraf aanlyn gekoop word, en sal gereed wees om by die inry opgelaai te word.
Daar sal vertonings Vrydagaande om 19:00, Saterdae om 15:00 en 19:00, Sondae om 14:00 en 18:00, asook Donderdae om 19:00 wees.
In die vooruitsig vir gesinne is vertonings van Scoob, The Incredibles, Toy Story en die nuwe prent 100 % Wolf.
Benewens Jiu Jitsu kan aksievrate ook uitsien na ’n vertoning van Avengers: Infinity War. Besoek www.sterkinekor.com of skakel 0861-Movies (668 437).