Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Inskrywings nou oop vir 10de Silwerskermfees

Inskrywings is nou oop vir die kykNET Silwerskermfees, wat vanjaar ’n dekade van plaaslike rolprente en nuwe talent vier. Sowat 126 kortflieks en meer as 80 vollengte flieks is sedert die eerste Silwerskermfees in 2011 uitgereik.

Die tiende Silwerskermfees word vanjaar aangebied.

Rolprentmakers soos Christiaan Olwagen (Kanarie, Poppie Nongena), Nosipho Duma (Nommer 37), René en Corné van Rooyen (Vaselinetjie, Toorbos), Bennie Fourie (Vuil Wasgoed) en Amy Jephta (Soldaat, Ellen: My naam is Ellen Pakkies) het die eerste keer die plaaslike rolprentbedryf as wenners van die Silwerskermfees se kortfliek-projek betree.

Die kortfilm-projek is vanjaar ietwat anders: Die fokus is op oorspronklike konsepte van talentvolle rolprentmakers met geen genre-voorkeur nie en nuwe flieks van drie tot 30 minute lank.

Fliekmakers met die beste konsepte word gekies om aan ’n skryfskool deel te neem. Die verkose rolprentmakers sal met hulp van mentors uit die plaaslike bedryf aan ’n finale draaiboek werk voordat die beste draaiboeke as kortfilms vervaardig word.

Amy Jephta
Christiaan Olwagen
Bennie Fourie

Dié nuutgeskepte kortfilms sal op die kykNET Silwerskermfees in Augustus debuteer en vir verskeie pryse in aanmerking kom.

Indien filmmakers al vantevore as ’n skrywer of regisseur ingeskryf het, kan hulle nie weer in dieselfde hoedanigheid inskryf nie, maar wel as ’n vervaardiger of regisseur.

Voornemende fliekmakers het tot 11 Maart die geleentheid om by silwerskerm.tv te registreer en voorstelle van tussen 250 en 300 woorde lank elektronies in te handig. Die inskrywingsfooi is R500.

Om ’n dekade van die kykNET Silwerskermfees te vier kry vervaardigers en rolprentmakers weer die geleentheid om enige bestaande werke by die fees in te skryf. Dit sluit kortflieks, vollengte of dokumentêre rolprente in.

Hierdie bestaande werke mag al internasionaal vertoon gewees het, maar moet plaaslik op die Silwerskermfees debuteer.

Fliekmakers mag vanjaar ook kies om hul flieks in te skryf as dit aan alle bepalings en voorwaardes voldoen. Hulle kan prysgeld van R100 000 wen. Sou ’n bestaande werk wen, sal hulle die geleentheid kry om hul werk te lisensieer.

Alle vorige deelnemers van die Silwerskermfees mag ook bestaande werke indien wat nog nie by die fees vertoon is nie. Inskrywings vir alle bestaande werke sluit op 30 April. Die inskrywingsfooi is R500.

Daarby bied kykNET in samewerking met M-Net ’n geleentheid vir voornemende skrywers om ’n oorspronklike draaiboek vir ’n vollengte fliek vir die draaiboeksoek-kompetisie in te skryf. Draaiboeke mag in enige genre wees en moet in die regte draaiboekformaat ingehandig word. Die wenner sal ’n kontantbedrag van R50 000 ontvang.

Inskrywings vir die draaiboeksoek-kompetisie is tot 26 Junie oop en inskrywings is gratis.

* Die 10de kykNET Silwerskermfees word van 24 tot 30 Augustus in Kampsbaai aangebied.

Hoe om in te skryf:

* Registreer op die Silwerskerm-blad by silwerskerm.tv

* Kies vir watter kategorie jy wil inskryf: nuutgeskepte kortfilm, bestaande werk of draaiboeksoek.

* Rolprente kan elektronies gelaai word op die aansoekvorm vir bestaande werk. Die prent moet tot 1 GB saamgepers word en fliekmakers of vervaardigers moet kies of hulle aan die kompetisie wil deelneem.

* Voltooi die inskrywingsvorm volledig elektronies. Moenie enige name by jou konsep aandui nie.

* Betaal die inskrywingsfooi voordat jy jou inskrywing inhandig. Geen veranderings word toegelaat ná die betaling nie.

Volg die Silwerskermfees 2020 op Facebook, Twitter en Instagram.

Meer oor:  Silwerskermfees  |  Kyknet  |  Inskrywings  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.