Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Is ’n ‘Joker’-opvolg aan die kom?

Die Amerikaanse rolprentmaker Todd Phillips, wat die wegholtreffer Joker geregisseer het, het beriggewing in The Hollywood Reporter (THR) gekap wat beweer ’n opvolg tot dié riller is op pad.

Joaquin Phoenix (links) en Todd Phillips by die première van ‘Joker’ in Parys. Foto: Getty Images

THR het in besonderhede berig hoe Phillips glo op 7 Oktober op ’n vergadering met Toby Emmerich, voorsitter van Warner Bros. Pictures Group, aangedring het op die regte om nog soortgelyke rolprente oor karakters in die DC Comics-heelal te vervaardig.

Emmerich het die versoek glo van die hand gewys – maar hy het wel glo die groen lig gegee vir ’n opvolg tot Joker, wat volgens die webwerf Box Office Mojo reeds meer as $1 miljard by die loket verdien het.

Volgens THR gaan Phillips glo weer in die regisseurstoel vir die opvolg sit, hy en Scott Silver sal weer die draaiboek skryf, en Joaquin Phoenix, wat waarskynlik ’n Oscar sal wen vir sy super-vertolking van die booswig, gaan weer in die karakter se skoene klim.

THR het Phillips en Warner Bros. glo om kommentaar genader, maar hulle wou glo nie op die bewerings reageer nie.

Phillips was egter meer spraaksaam in ’n onderhoud met IndieWire en het al die bewerings ontken: Volgens hom was daar geen onderhoud tussen hom en Emmerich op 7 Oktober nie, geen ooreenkoms oor ’n opvolg is gesluit nie, en geen draaiboek word tans vir ’n opvolgprent ontwikkel nie. Hy het wel gesê ’n opvolg is al in die verlede geopper.

“Daar is altyd sprake van ’n opvolgprent wanneer ’n rolprent ’n miljard dollar verdien,” het Phillips gesê.

“Ek en Joaquin het al in die openbaar gesê ons het sedert die tweede week van verfilming oor ’n opvolg gepraat, omdat dit pret is om daaroor te praat. Maar die THR-artikel het na ander dinge verwys wat geheel en al onwaar is. Ek weet nie hoe dit (die leuens) begin het nie.

“Hier is die waarheid oor ’n opvolg: Hoewel ek en Joaquin al daaroor gepraat het, en terwyl ons die wêreld oor met uitvoerende hoofde van Warner Bros. reis […], sit ons natuurlik aan vir aandete en vra: ‘So, het julle al gewonder oor . . .?’

“Maar wanneer dit by kontrakte kom, is daar geen kontrak om ’n opvolg te skryf nie, ons het ook nie vir Joaquin genader om in ’n opvolg te wees nie. Gaan dit gebeur? Weer eens, die artikel skep hoogstens net ’n verwagting.”

THR het ook berig dat Phillips sowat $100 miljoen vir die eerste fliek verdien het. Hy wou nie vir IndieWire kommentaar gee oor dié bewering nie.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Dc Comics  |  Joaquin Phoenix  |  Todd Phillips  |  Flieks  |  Joker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.