Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Italiaanse rolprentfees terug in Kaapstad
In Volare (Tutto il mio Folle Amore) sien die outistiese seun Vincent vir die eerste keer sy pa.

Fliekvlooie kan uitsien na ’n keur van Italiaanse rolprente in Kaapstad. Vanjaar is die 19de keer dat die Italian Film Focus aangebied word.

Dit word van 28 November tot 3 Desember in die Labia-teater aangebied.

Dit sluit in onlangse en bekroonde rolprente wat op groot internasionale rolprentfeeste gewys het. Wat onderwerpe en temas betref, is daar ’n verskeidenheid en dit wissel van verhale oor die alledaagse lewe, komiese familiekonflikte tot geestelike en liggaamlike gestremdheid en die onvermydelike onderwerp van die mafia.

In An almost ordinary summer (Croce e Delizia) deel twee gesinne, die aristokratiese Castelvecchios en die werkersklas Petagnas, ’n vakansiehuis by die see. Wat blyk ’n gewone somervakansie te wees raak egter vinnig ontwrig wanneer die twee patriarge onverwags hul verlowing aankondig.

Aspromonte: Land of the Forgotten (Aspromonte: La terra degli ultimi) kan beskryf word as ’n atipiese Western. Dit handel oor ’n gemeenskap wat in die 1950’s saamstaan en besluit om self ’n pad te bou nadat ’n vrou dood is en die dokter nie betyds by hul dorpie kon uitkom nie.

’n Toneel uit Stolen Caravaggio (Una storia senza nome).

Dafne se titelkarakter is ’n meisie met Down-sindroom, maar dit stuit nie haar onafhanklikheid en lewenslus nie. Selfs nadat haar ma sterf, is Dafne die standvastige een wat haar pa help om die verlies te verwerk. Op ’n dag besluit hulle om na die dorp te stap waar Dafne se ma gebore is, en dié reis word ’n verrassende ontdekkingstog.

In Stolen Caravaggio (Una storia senza nome) is ’n jong sekretaresse ook ’n spookskrywer vir ’n bekende draaiboekskrywer. Nadat ’n ou polisieman vir haar ’n misdaadverhaal vertel, gebruik sy dit as onderwerp vir ’n draaiboek, met onvoorsiene gevolge. Die misdaadverhaal is gegrond op ’n kunswerk van Caravaggio wat in 1969 in Palermo voete gekry het.

The Champion (Il Campione) handel oor Christian, ’n talentvolle dog onvoorspelbare en rebelse sokkerspeler. Nadat hy erg droogmaak, word hy gedwing om ’n persoonlike tutor te kry om sy humeur in toom te hou. Aanvanklik word daar baie kop gestamp.

The Mayor of Rione Sanità (Il sindaco del Rione Sanità) is gegrond op die gelyknamige toneelstuk van Eduardo De Filippo. Die protagonis, Antonio Barracano, is ’n eerbare man, maar hy word in ’n morele kwessie gedompel wanneer ’n jong man sy hulp vra om moord te pleeg.

In Vivere word die soms gefrustreerde, maar kleurvolle Atorre-gesin se lewe omvergewerp wanneer ’n Ierse kunsstudent by hulle intrek as au pair om hul sesjarige dogter op te pas. Die gesin se nuwe toevoeging verander hul lewe onherroeplik.

In Volare (Tutto il mio Folle Amore) sien die outistiese seun Vincent vir die eerste keer sy pa wat al singende opdaag by sy ma en stiefpa se huis. Vincent besluit dan om in sy pa se motor weg te kruip sonder dat hy weet watter bestemming vir hom voorlê.

Benewens die rolprente gaan ’n afvaardiging van rolprentvervaardigers ook ’n draai by die fees maak. Hulle sal met lede van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf vergader en opvoedkundige aktiwiteite by van die plaaslike rolprentskole aanbied.

Kaartjies is beskikbaar by die Labia-teater. Vir meer inligting, besoek die Facebook-blad italianfilmfocus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.