Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Jacobs neem ‘Swaan’-storie
Jason Jacobs

Jason Jacobs (26), skrywer en teaterregisseur, maak vandag sy buiging as rolprentregisseur met Nama swaan by die agtste kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai.

Jacobs is in 2017 vereer met Kunste Onbeperk se Nuwe Stem-prys vir drie van sy toneelstukke by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Een van dié stukke, Kalahari swaan, is vanjaar verwerk vir die grootskerm met ’n nuwe titel, Nama swaan.

Dit sal meeding in die kortfliek­kategorie by die jaarlikse rolprentfees.

Jacobs was ’n wenner van die jaarlikse Theatre Arts Collective-beurs vir opkomende teaterregisseurs. Tog was rolprente nog altyd iets wat hy wou

Jason JacobsFoto: Natalie Gabriels

aanpak.

“Om stories te vertel is my roeping. Vir my as storieverteller is dit belangrik dat die storie groei en dat meer mense dit sien.

“Ek is bevoorreg om die kortfilm te kon maak omdat ek nie film gestudeer het nie, maar ek wou meer groei in my skryfwerk en leer van rolprente.”

Hy is veral ondersteun deur die skrywer Amy Jeptha en die vervaardiger- televisieregisseur Ephraim Gordon. Dié twee het verlede jaar die kortfliekkategorie gewen met hul kortfliek Soldaat.

“Hulle was baie behulpsaam en het my baie geleer oor verskillende aspekte van rolprente,” sê Jacobs.

Hoewel die aanpassing van toneel na silwerdoek baie uitdagend was, het dit nie anders gevoel nie omdat dit nog altyd Jacobs se droom was om stories te vertel.

“My stories vra vrae oor identiteit. Nama swaan fokus veral op manlikheid en wat dit beteken om ’n man te wees in vandag se samelewing.

“Dit kyk na die hoop en positiwiteit oor hoe mens die struikelblokke moet oorkom met al die lokvalle van die lewe.

“Die hoofkarakter, Willie, is ’n matrikulant en wil graag wiskunde verder studeer, maar sy ouma weier om sy aansoekvorm te teken.”

Jacobs glo dat hy deur sy werk altyd die magiese elemente wil betrek en op daardie manier vrae van kykers ontlok.

“Ek vind my mense baie interessant en soek altyd my eie identiteit in my stories. Nama verwys nie net na die taal nie, maar ook na die kultuur en die mense.”

Hy meen die proses van “kaalvoet hardloop” is baie belangrik voordat jy kan “spring en vlieg”. Met mag en moed kan enige jongman veg vir sy eie plek in hierdie
wêreld.

Meer oor:  Kampsbaai  |  Kaapstad  |  Silwerskermfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.