Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Jamie Uys: ‘Sonskynmens’ wat mense wêreldwyd laat lag het

Die rolprentmaker Jamie Uys sou Sondag 100 jaar oud word. Met sy dood in 1996 het hy aan ’n nuwe fliek gewerk – een wat nooit die lig gesien het nie. AJ Opperman het met mense gepraat wat hom geken het. 

Die dag waarop Jamie Uys dood is, sou hy die regisseur Koos Roets oor ’n nuwe fliek bel.

“Hy het toe op Stellenbosch gewoon,” sê Roets.

Die rolprentmaker Jamie Uys, wat Sondag 100 jaar oud sou word. Foto: Media24-argief

“Hy sou my 15:00 bel. 15:30 het verbygegaan en toe ek 16:00 bel, antwoord Hettie (Uys se vrou) en sê hy is pas aan ’n hartaanval dood.”

29 Januarie 1996. Hy was 74.

“Hy het my die oggend gebel en gesê hy het ’n idee vir ’n fliek oor jong swart kinders en hul eie fietsfabriek. Maar hy gaan gou draf. So ek het letterlik kontak gehad met hom in die laaste ure voordat hy dood is.”

Roets het ’n lang pad saam met Uys geloop.

“Ek het by hom geleer as die boek sê jy mag dit nie doen nie, probeer dít eers."

Hy het in 1962 vir die eerste keer saam met Uys op die stel van die fliek Lord oom Piet gewerk. En net daarna het hulle aan Uys se Dingaka (1964) begin werk.

“Vir Dirkie (1969) het ek van die goed vir hom geskiet. Van die vliegtonele.”

Dirkie is die trefferfliek wat in ’n woestyn afspeel waarin Uys en sy seun, Wynand, te sien was.

Uys was bekend daarvoor dat hy baie gedink het op ’n rolprentstel. Hy was ’n perfeksionis.

Jamie Uys, sy seun, Wynand, en Gert van den Bergh op die stel van ‘Die professor en die prikkelpop’. Foto: Media24-argief

“Met Dingaka sou ons ’n toneel skiet, en dan loop ons die volgende dag ’n boom raak wat mooier blomme het. Dan sou ons daardie hele ding scrap en van vooraf begin skiet – omdat dit ’n mooier boom is. Niks het hom gekeer nie.”

Die rolprentresensent en skrywer Leon van Nierop sê die tonele wat Uys se dink-oomblikke opgelewer het, was baie snaaks.

“Mense wat saam met hom gewerk het, vertel hy sou letterlik ure lank aan sy pyp suig voordat hy ’n toneel skiet. Dan was dit ’n kort toneeltjie. En as iemand sou vra wanneer hulle begin skiet, was sy antwoord gewoonlik: ‘Ek dink.’ ”

Van Nierop stem saam dat Uys veelsydig was, maar hy het ook sekere van sy resepte herhaal.

“Dink aan die klassieke toneel in Daar doer in die Bosveld (1951) waarin hy probeer om ’n hek oop te maak terwyl sy voertuig se handrem nie werk nie. Dit is een van die snaaksste tonele, en sonder dialoog. Hy het dit later weer gebruik.”

Daar doer in die Bosveld is vanjaar 70 jaar gelede uitgereik. Uys se vrou en sy oudste twee kinders, Kobie en Marietjie, verskyn daarin.

Dit was voor die geboorte van hul seun, Wynand.

Sue Burman
Sue Burman en Jamie Uys tydens verfilming, met die kenmerkende pyp in sy mond.

Kobie Krüger, Uys se oudste kind, sê haar pa het geen rolprentopleiding gehad nie. “Hy en my ma was albei wiskunde-onderwysers.”

Jacobus Johannes Uys is op 30 Mei 1921 in Boksburg aan die Oos-Rand gebore. Hy is na die Skotse buurman genoem. Vandaar die naam Jamie.

Hy en Hettie het mekaar as studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) ontmoet.

Hy het op ’n musiekaand klavier gespeel toe sy in die gehoor was.

“Hy het ’n komposisie van Beethoven gespeel. Hy was baie lief daarvoor. My ma vra toe die vrou langs haar wie dié man is. En sy sê dis haar broer. Dit was my tannie Helene Uys wat langs haar gesit het.”

Uys en Hettie het op ’n plaas aan die Palalarivier naby die Botswana-grens gewoon.

“My oupa (haar ma se pa) het in die Depressiejare daar met beeste geboer en voorgestel dat my pa hom met die boerdery kom help.

“Kort ná sy aankoms op die plaas is hy as magistraat vir die omgewing aangestel. Die boere van die omgewing het besluit hy is die beste toegerus om magistraat te wees.”

Daar het hy die Bosveld leer ken en wou ’n fliek oor dié wêreld en sy mense maak.

Hy en Hettie het die hoofrolle gespeel, terwyl die bure al die ander rolle vertolk het. Hy, Hettie en sy broer, Jok Uys, het beurte agter die kamera gemaak.

Jamie Uys tydens verfilming.

“Aan die einde van die skoolvakansie moes Jok teruggaan Johannesburg toe, en ’n jong veewagtertjie met die naam Kaiafas het as kameraman opgetree.”

Uys het nie daar opgehou om flieks te maak nie.

Krüger vertel haar pa het in die 1950’s die maatskappy Jamie Uys Films gestig.

“Hy het van slapstick ’n kuns gemaak. Sy gesigsuitdrukking het selde verander.

“Die broers Boet en Bill Troskie het my pa kom sien en gevra hoe hulle hom kan oorreed om vir hul maatskappy (Mimosa Films) te kom werk.”

“Dit is hoe hy in 1966 by Mimosa Films begin werk het. Hulle het hom onder meer ’n groter salaris aangebied, ook ’n groter rolprentspan. My pa het gesê hy verkies om met sy eie klein span te werk, maar wil graag meer tyd hê (twee of selfs drie jaar) om ’n rolprent te maak. Die Troskies het gesê hulle sal hom soveel tyd gun as wat hy wou hê.”

Boet Troskie beskou Uys as een van die intelligentste fliekregisseurs wat hy ooit ontmoet het.

Bob Courtney en Jamie Uys in ‘All the Way to Paris’. Foto: Media24-argief

“Jamie het ’n ongekende skeppingsvermoë en denkwyse gehad.

“Al die rolprente wat hy vir my vervaardig het, is aan buitelandse verspreiders verkoop. The Gods Must Be Crazy (1980) is drie jaar lank ononderbroke in Amerikaanse rolprentteaters vertoon. Dié prent het sowat R1,8 miljard wêreldwyd verdien.”

Roets sê Uys het hom nie aan reëls gesteur nie.

“Ek het by hom geleer as die boek sê jy mag dit nie doen nie, probeer dít eers. Hy sou byvoorbeeld op ’n Sondag vyf swart varkies soek. En as die arme Bill Venter hulle gekry het, besluit Jamie hulle moet eerder wit wees. Dan word hulle met shoeshine wit gemaak.”

Volgens Roets het Uys nie probeer om snaaks te wees nie.

Hy was wel vergeetagtig.

“Ons het op ’n dag oor die Swartbergpas gery. (Ek dink dit was einde 1962.) Hy het so ’n ou Mercedes gehad. Skielik los hy die stuurwiel en hy draai na my toe en hy begin praat. En toe jaag ons van die pad af. Die kar het op sy sy beland, darem nie gerol nie.

Jamie Uys by sy seun, Wynand.

“Hy het heeltemal afgeskakel van wat hy besig was om te doen en het net in die rolprent ingegaan. Vir hom het alles gegaan oor rolprent maak. Daar was niks anders nie, behalwe dalk modelvliegtuie.

“Daardie ongeluk op die pas het gelukkig nie baie vinnig gebeur nie, maar die tasse het uit- en oopgeval. Oral was net klere te sien waar dit aan die Karoobossies gehang het.”

Roets reken as akteur het Uys se lyftaal veel meer as enige dialoog verklap.

Soos Roets vergelyk Van Nierop Uys se toneelspel met dié van Buster Keaton en Charlie Chaplin.

“Hy het van slapstick ’n kuns gemaak. Sy gesigsuitdrukking het selde verander.

“Vandag speel ’n akteur sodat mense vir hom moet lag, maar Jamie het dit straight forward gedoen. Jamie was ’n meester om mense te laat lag vir iets wat hy dalk nie self bedoel het nie.”

“My pa was ’n gedrewe mens. Hy het gesukkel om vakansie te hou."

’n Ander gawe van Uys was om talent raak te sien, sê Van Nierop.

Die regisseur Elmo de Witt het saam met Uys aan die fliek Geld soos bossies (1955) gewerk – “as ’n stand-in-kameraman”.

Uys was baie beïndruk deur hom. “Jamie het hom raakgesien.”

De Witt het later trefferolprente soos Kavaliers, Hoor my lied en Snip en Rissiepit gemaak.

Die sangeres Carike Keuzenkamp, wat saam met Krüger in die koshuis op Tukkies was, was in ’n toneel in die fliek Die professor en die prikkelpop (1967) nadat sy sommer in Uys se sitkamer die oudisie gedoen het.

Dit was vir die toneel waarin sy die liedjie “Timothy” gesing het.

Uys het Gordon Hood, pa van die bekroonde rolprentmaker Gavin Hood, ook in Dingaka die eerste keer in ’n fliek gebruik.

Jamie Uys Foto: Media24-argief

Roelf van Jaarsveld, omroeper by Radio Laeveld, wou altyd graag op rolprente werk. Hy was gaande oor Uys se flieks sonder dat hy besef hy gaan eendag saam met hom werk.

Daan Retief, wat die gewilde karakter Staal Burger vertolk het, het in die vroeë 1970’s ’n afspraak vir Van Jaarsveld by Mimosa Films gemaak.

“Ek word toe aan oom Jamie voorgestel. Ek het hom 13 jaar lank as ‘meneer’ aangespreek. Hier kom ’n kort, fris mannetjie aangestap. Plakkies, kort broek, wit onderhemp, pyp in die mond. Ek moes twee keer kyk, want die man was effens bles! Ek het eers later uitgevind sy geliefkoosde pruik word net vir rolprentverskynings gebêre.”

Uys het hom na sy kantoor geneem en hom gevra of hy iets van mikrofone weet. Van Jaarsveld het ja gesê, want hy het toe reeds ’n paar jaar by die SAUK gewerk.

Uys se reaksie: “Ag, ja wat, dis mos ’n maklike ding, of wat. Kan jy snêps neem? Ek bedoel foto’s, en kan jy 1 Februarie (1972) inval? Ons wil Suidwes-Afrika (nou Namibië) toe vir ’n diere-film.”

Dit was die fliek Beautiful People (1974), waarvoor Uys ’n Golden Globe-prys vir beste dokumentêre fliek gekry het.

Krüger, wat voorheen saam met haar gesin in die Krugerwildtuin gewoon het, het dokumentêre prente gemaak en ses boeke geskryf. Vier van hulle het gegaan oor hul lewe in die wildtuin.

“My pa was ’n gedrewe mens. Hy het gesukkel om vakansie te hou. Hy was altyd optimisties, ’n sonskynmens. Hy het altyd die mooi in die lewe gesien en dit met almal gedeel.”

Hettie is in 2019 dood.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.