
Jane Fonda in haar ‘Workout’-video in die 1980’s. Foto: Harry Langdon, Getty Images
Jane Fonda (83) is vanjaar die ontvanger van die gesogte Cecil B. DeMille-prys vir haar prestasies in die rolprentkuns en as aktivis die afgelope 60 jaar vir maatskaplike kwessies.
Die prys sal op die Golden Globes-seremonie op 28 Februarie aan haar oorhandig word.
Fonda het haar professionele debuut as aktrise in 1960 op Broadway en op die silwerdoek gemaak en was tot die einde van die 1970’s een van die bekendste Hollywood-sterre. Barbarella, On Golden Pond, 9 to 5, Julia en They shoot Horses is van die flieks waarin sy geskitter het, asook Klute en Coming Home waarvoor sy met Oscars as beste aktrise bekroon is.
Sy is ook bekroon met twee Baftas (Julia en The China Syndrome), sewe Golden Globes en twee Tony-pryse. In haar trofeekas pryk nog sowat 50 pryse ter erkenning van haar uitstaande toneelspel oor ’n tydperk, asook vir spesifieke rolle.
Een van haar grootste suksesse was die oefenvideo Jane Fonda’s Workout wat sy in 1982 bekend gestel het. Meer as 17 miljoen video’s is verkoop en dit is opgevolg met nog verskeie video’s.
Fonda se mees onlangse verskyning was in die Netflix-komediereeks Grace and Frankie.
Sy het ook gewild geword as ’n politieke aktivis en het haar stem dik gemaak teen die Viëtnamese oorlog in die 1970’s en die oorlog in Irak in 2003. Deesdae maak sy mense bewus van die gevare van klimaatsverandering.

’n Meer onlangse foto van die Hollywood-ster Jane Fonda (83). Foto: Mario Anzuoni, Reuters
Fonda is die dogter van Henry Fonda en suster van Peter Fonda. Albei mans is reeds oorlede.
Onder die vorige ontvangers van die DeMille-prys is Sean Connery, Martin Scorsese, Steven Spielberg, Oprah Winfrey, Meryl Streep, Sophia Loren, Tom Hanks en Robert De Niro.
Dié prys is die hoogste eerbetoon deur die Hollywood Foreign Press Association, die organisasie wat ook die Golden Globes toeken. – Saamgestel deur Elretha Britz met bykomende bronne timeslive.co.za, Variety.com, wikipedia.com