Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
RESENSIE: ‘Joker’ belig lot van slagoffer
Joaquin Phoenix in Joker.

Die rolprent Joker trek reeds wyd aandag sedert dit in Augustus op die Venesiese Biënnale gewys het. Dit is al die hoepla werd. Laetitia Pople gee dit vier sterre.

Todd Phillips se Joker is nie ’n maklike prent nie. Dit is sielkundig uitmergelend. As jy ’n superheldprent verwag en iemand wat iemand met ’n breë gorillabors red, is dit nie jou tipe prent nie.

Joaquin Phoenix sit enige ander Joker-karakter ore aan. Sy hoonlag wat sy eie gek toonlere volg, bly in die kyker se ore kekkel. Ná Phoenix se Joker sal elke ander akteur werklik moeilik dié karakter kan deurgrond soos die eksentrieke akteur hier regkry.

Phoenix gaan die toetssteen wees. Hy is nie net besete nie, sy misvormde lyf en aardige rieldansie klee hom in waansin.

Tog laat hy jou wonder of sy waarnemings oor die lewe nie dalk reg is nie; dit is dan wanneer die onrus in jou oplaai. En dit is die sleutel tot die sukses van die prent. Die twyfel wat dit by die kyker skep. Alles hier is geloofbaar danksy ’n wêreld wat sy morele kompas verloor het. Waar leiers werklik stommerike is en die belange van die burgers van nul belang is.

Joker delf diep in die sielkundige ratwerk van die moderne samelewing en wys hoe die mensdom eintlik sy eie monsters skep en die gevolge sal moet dra.

Ons leef in Joker se wêreld en kop. Alles is wrang ironies en ’n mens lag min. Waaraan gaan jy die werklikheid meet? Die korrupte polisie wat op sy spoor is?

Die prent is reeds van Augustus met ’n groot hoepla omgeef nadat dit op die Venesiese rolprentfees die Goue Leeu, die fees se hoogste eer, ontvang het. En die uitspraak doen ook die ronde dat Phoenix die Oscar reeds in sy broeksak het vir sy vertolking van die geestelik versteurde Arthur Fleck.

Phoenix se meesterlike vertolking tersyde – Phillips (mede-draaiboekskrywer) vertel ’n eintlik holruggeryde storie op so ’n anderste manier dat hy jou tot die allerlaaste oomblik bly prikkel – visueel en met ’n storielyn wat verras.

Sy prent speel vroeg in die jare 80 af in Gotham City ná drakoniese ingrypings wat die mees weerlose burgers knak. Phillips raam New York in donker, Gotiese verskrikking – die resessie byt en verwoes lewe.

Dit is ’n kruitvat wat in die kyker se gesig ontplof. Hy skets die stadsmens se eensaamheid en verlorenheid soos vasgevang in tonele wat die Amerikaanse skilder Edward Hopper se skilderye hier eggo.

Arthur is ’n middeljarige man op sterk medikasie sodat hy net deur die dag kan worstel. Hy is sy afspraak met die maatskaplike werker en sy medikasie vir sy gemoedsteurnisse kwyt, weens die maatskaplike begroting wat keelaf gesny is. Tog droom hy om ’n komediant te wees. Bedags verdien hy ’n geldjie as ’n hanswors wat in hospitale en winkels as ’n afleiding of aandagtrekker werk.

Snags versorg hy sy siek ma en kyk hulle na die kletskoning Murray Franklin se televisieprogam – Franklin word gespeel deur Robert de Niro, en dié blyk ’n soort vaderfiguur vir Arthur te wees.

Die kyker weet nie altyd waarna sy kyk nie, is dit als Arthur se deliriese waanbeelde of is dit die ware gegewe? Hier is niemand van wie jy kan hou of bewonder nie. Niemand wie se perspektief jy kan vertrou nie.

Die Joker speel sy troefkaart: as kyker kan jy hom nie loof of aan hom walg nie – hy is ’n verwikkelde karakter en tot met die laaste aangrypende tonele hou hy ’n spieël op. In een oomblik is hy ’n bevrydingsfiguur wat spreek tot mense verslaan deur hul tyd en heersers, en in ’n ander ’n mens wat reeds van sy vroegste kinderjare verinneweer en versaak is deur mense wat na hom moes omsien.

Joker is die begin van DC se losstaande karakter-prente. Die lat is hoog gestel en die kyker word beslis nie teleurgestel nie.

16 TGD. 122 minute.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.