Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Joker’-regisseur wou nie nee van Joaquin Phoenix aanvaar
Joaquin Phoenix as Arthur Fleck in die fliek Joker, wat in Oktober uitgereik word.

Die toekenningseisoen vir internasionale rolprente het maar pas begin en reeds word Joaquin Phoenix as ’n moontlike Oscar-wenner genoem. Daarvoor moet die regisseur Todd Phillips ’n klop op die skouer kry.

Phillips vertel hy het net een akteur in gedagte gehad terwyl hy aan die draaiboek vir Joker help skryf het en was nie bereid om nee vir ’n antwoord te vat nie.

Hy het Phoenix by sy huis besoek, verskeie kere. Hy het hom vertel sy besondere insigte in ’n rol, sy fyn nuanses, sy andersoortige aanslag is presies wat hy as regisseur nodig het. Maar Phoenix wou nie byt nie.

Volgens Phillips het Phoenix “net eendag vir die aanpas van kostuums opgedaag sonder dat hulle in daardie stadium ’n kontrak gehad het”.

Joker het op 31 Augustus op die Venesiese rolprentfees gedebuteer, waar dit die topprys, die Goue Leeu vir die beste prent, ontvang het.

Phoenix het vir sy vertolking van die karakter Arthur Fleck vandeesweek op die Toronto- internasionale rolprentfees die prys vir beste akteur gekry. Volgens die aanlyn tydskrif Deadline is daar keer op keer al bewys dat Toronto-wenners ook met Oscar-beeldjies bekroon word.

“In dié stadium kan Phoenix as die voorloper in die Oscar-wedloop beskou word, al word Joker eers op 4 Oktober uitgereik,” skryf Deadline.

Joaquin Phoenix in sy hansworskostuum in Gotham City in die rolprent Joker.

Phoenix het in sy toespraak op die Toronto-fees roerend hulde gebring aan sy oorlede broer, River Phoenix, en sy susters wat hom sover gekry het om toneel te speel.

Joker is ’n donker sielkundige uitbeelding van die klassieke Batman-booswig, die hansworsprins van misdaad, in die gelyknamige strokiesprentboek.

Arthur Fleck is ’n hanswors wat gespot word oor sy onbeheersde lagaanvalle en vreemde persoonlikheid. Sy lewe is op so ’n afdraande pad dat hy hom tot gesigverf en ’n kleurryke kostuum wend. En raai wat? Hy word die vonk wat ’n revolusie in die misdaadgeteisterde Gotham City meebring.

Phoenix sê die karakter was vir hom opwindend en stimulerend, maar hy was veral in sy skik met die onbeperkte moontlikhede wat dit vir interpretasie bied.

Al het hy aanvanklik teëgestribbel toe Phillips hom vir die rol genader het, was daar tog iets wat hom geprikkel het. “Hoe verder ons gewerk het, hoe meer het dit ontwikkel in iets baie groter as wat ek voorsien het en uiteindelik het dit een van die beste ervarings van my lewe geword.”

Phillips sê: “Dit was nie maklik (om Phoenix oor te haal) nie, maar ek het geweet ek wil niemand anders vir die rol hê nie.”

Joker toon invloede van prente uit die 1970’s soos Taxi Driver, Death Wish en Network, terwyl dele uit die Joker-boek gebruik is om ’n nuwe persona te ontwikkel.

Ander belangrike akteurs in die fliek is Robert De Niro, Frances Conroy en Brett Cullen. Bronne:Variety, USA Today, Deadline

Meer oor:  Joaquin Phoenix  |  Joker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.