Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kaapse vrou vertel in dokkie van haar ervaring in Jodeslagting

I Am Here

****

Die dokumentêre rolprent I am here handel oor ’n 99-jarige Poolse vrou wat die Nazi-kampe Bergen-Belsen en Auschwitz oorleef het. Sy woon in Seepunt, Kaapstad.

Ella Blumenthal se hele familie, behalwe haar niggie saam met wie sy in die kampe was, het in die Jodeslagting gesterf.

Die regisseur Jordy Sank stel haar in sy prent gaandeweg aan die kyker bekend. Sy is waarskynlik een van die weinig oorlewendes van die slagting wat nou eerstehands aan die volgende generasies kan vertel hoe dit was. Dit is kort voor haar 98ste verjaardag; daar is voorbereidings vir ’n groot familiesamekoms. Sy leef omring van haar kinders en kleinkinders.

Dit is ’n goeie lewe, sê Blumenthal, sy lewe in liefde. Op kamera verstel sy moeisaam van haar ervaringe. Dit laat ’n mens se bloed stol.

Haar lewe is ’n getuigskrif van verdraagsaamheid, begrip en deursettingsvermoë. Sy het die mens se verskriklike wreedheid teenoor ander eerstehands ervaar, sy wys propaganda uit vir wat dit is, die skep van vrees. Vrees is die teelaarde van haat.

“Dit mag nooit weer gebeur nie; ons moet dit met alles in ons beveg,” sê sy.

En kyk hoe maklik gebeur dit weer en weer. Daarom skryf Blumenthal briewe aan mense wat ontken dat die Jodeslagting gebeur het, of wat glo dat Hitler reg opgetree het. Sy onderteken die briewe met “liefde, Ella Blumenthal”. Sy wil hulle selfs ontmoet en gesels. Sy het die letsels en dit is nie net die syfers getatoeëer op haar arm nie. Tog reik sy uit na mense wat meen die verskrikking het nooit gebeur nie.

Sank vul Blumenthal se verlede in met animasie oor haar jong lewe as tiener in die ghetto van Warskou. Dit is grafies en verskriklik en nog groter verskrikking wag. Later kom vryheid en verlossing en selfs romanse, wat haar na Suid-Afrika, die ander kant van die aardbol, sal lok.

Die prent het internasionale pryse ingeryg en ’n mens kan verstaan hoekom. Dit is die oorlewingsdrama wat jou intrek en jou selfs aanspoor tot dapperheid, maar dit is die mens, Ella Blumenthal, wie se siel en hart jou oorrompel.

• I Am Here word gratis vertoon op die Durbanse Internasionale Rolprentfees, wat vanjaar aanlyn aangebied word. Dit begin op 22 Julie.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.