Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Karen van memes na fliek – en dis ’n riller!
Een van die vroeë plakkate van die rolprent ‘Karen’.

Die eiegeregtige Karens van die wêreld kry ’n rolprent. En dit is ’n riller.

Die rol van ’n wit, rassistiese Karen in die opkomende Amerikaanse rolprent Karen word vertolk deur Taryn Manning, bekend om die bekroonde tronkreeks Orange Is the New Black op Netflix.

Haar karakter is Karen Dexter, soortgelyk aan die wit vrou wat dikwels in memes uitgebeeld word waar sy veeleisend optree en aandring daarop dat haar wil geskied buite die perke van die aanvaarbare. Sy gebruik ook haar privilegie in die samelewing om mag af te dwing. Talle video’s het die afgelope tyd opslae gemaak waarin swart mense dikwels valslik geïnkrimineer word weens vroue soos Karen se wilde aantygings. Byvoorbeeld die voorval in Central Park waar ’n wit vrou wat met haar hond gaan stap het ’n swart man wat na voëls gekyk het by die polisie verkla het.

In die prent probeer die Karen om haar nuwe swart bure uit haar buurt te verja. Waarmee sy nie rekening gehou het nie, is dat haar bure aktiviste is – hulle is reg om terug te baklei vir wat reg en regverdig is. Haar bure word vertolk deur Cory Hardrict (American Sniper) en Jasmine Burke (Saints & Sinners). Die regisseur is Coke Daniels.

Taryn Manning as Karen in die riller ‘Karen’.

Daniels is bekend om prente soos His, Hers & the Truth.

Tanning het in ’n onderhoud met die vermaaklikheidswebwerf TMZ gesê dat sy dié rol inspan om verandering teweeg te bring. “Ek het ’n maatskaplike verantwoordelikheid gevoel om die rol te vertolk. Al moet ek die booswig speel, doen ek dit om verandering teweeg te bring. As jy nie van my hou in die rol nie, perfek, ek het my werk gedoen. Die kern is dat dít wat aan die gang is hartverskeurend is, en dit is tyd vir verandering. Dit beteken baie vir my om deel van die groter prentjie te wees.”

Sy het ter navorsing video’s met Karen-insidente aanlyn gekyk om voor te berei en was geskok dat daar so baie is, luidens die onderhoud.

’n Uitreikdatum is nog nie bekend nie, hoewel die prent op die komende Cannes-fees op die rolprentmark is.

• Bronne: Movieweb, Deadline en imdb.com

Meer oor:  Riller  |  Karen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.