Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Keniaanse fliek oor lesbiese verhouding in SA vertoon
Samantha Mugatsia (links) en Sheila Munyiva in die fliek Rafiki, wat van 30 Augustus in Suid-Afrika draai.

Die rolprent Rafiki is ver verwyder van die Lion King se bobbejaan, behalwe dat die woord in albei gevalle “vriend” in Swahili beteken.

Die Keniaanse regisseur Wanuri Kahiu se Rafiki het weens sy lesbiese verhaal groot struikelblokke om te oorkom terwyl Simba en Mufasa se wyse vriend oral geliefd is.

Danksy Suid-Afrika se aanvaarding van selfdegeslagverhoudings wys dié fliek, wat ook wyd lof ingeoes het, van 30 Augustus hier in teaters.

Die verhaal is gegrond op die Ugandese skrywer Monica Arac de Nyeko se bekroonde kortverhaal Jambula Tree, waarin Rafiki vertel van ’n teer liefde wat tussen twee vriendinne ontstaan.

Kena (Samantha Mugatsia) en Ziki (Sheila Munyiva) ondersteun mekaar in die najaag van hul drome in ’n konserwatiewe gemeenskap en onder politieke en familiedruk. In die gedeelde stryd vind hulle ’n passie vir mekaar wat in ’n mediaverklaring beskryf word as ’n “kleurvolle verhaal met die polsende ritme van eerste liefde”.

Rafiki is verlede jaar op die Cannes-rolprentfees die eerste keer vertoon en sedertdien op sowat 150 feeste wêreldwyd waar dit meer as 20 pryse ontvang het.

Die fliek is inderdaad in Kenia verbied met die gevolg dat dit ook nie vir die Oscars ingeskryf kon word nie.

Die mediaverklaring bestempel Rafiki as ’n “belangrike en dapper prent, komende uit ’n land waar gay-seks verbode is en mense wat in selfdegeslagverhoudings is met tot 14 jaar tronkstraf gevonnis kan word”.

Die fliek is inderdaad in Kenia verbied met die gevolg dat dit ook nie vir die Oscars ingeskryf kon word nie. Volgens Oscar-vereistes moet ’n fliek minstens sewe dae in die land van oorsprong vertoon word om in die afdeling vir nie-Engelstalige flieks mee te ding.

Kahiu en ’n groep kunstenaars het die regering toe gedagvaar, wat gaaf genoeg was om die verbod vir sewe dae op te hef. In daardie week het Rafiki $33 000 verdien, die tweede meeste van enige fliek tot nog toe.

Terwyl die aktiviste hul stryd om die permanente opheffing van die verbod voortsit, is Rafiki in Europa, die VSA en Brasilië vertoon en sal dit binnekort ook in Japan en Suid-Afrika open.

Die vervaardiger is die Suid-Afrikaner Steven Markovitz, wat die afgelope 20 jaar vollengteprente en dokumentêre in Afrika maak. Sy fiksieverhale is op rolprentfeeste in Cannes, Berlyn, Toronto, Venesië en Salt Lake City vertoon.

Meer oor:  Kenia  |  Fliek  |  Oscars  |  Rafiki
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.