Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kies tussen romantiese komedie en riller vir fliekvermaak
Die Britse aktrise Celia Imrie is te sien in ‘Love Sarah’, wat van Vrydag 7 Mei in teaters wys.

Twee rolprente haal vandag die nasionale kringloop. ’n Romantiese komedie wat in die Londense kunsbuurt Notting Hill afspeel en ’n riller met Angelina Jolie, wat te midde van ’n reusebrand in die boomryke Amerikaanse staat Montana afspeel.

• Love Sarah handel oor Clarissa, ’n jong vrou wat daarop uit is om haar ontslape ma se droom te bewaarheid. Sy gaan ’n bakkery oopmaak, met fyngebak van oor die wêreld heen waaraan mense kan smul en vir ’n oomblik van hul sorge vergeet. Haar ma is oorlede op die dag waarop sy haar eie bakkery sou oopmaak.

Clarissa het egter hulp nodig. Sy nader haar ma se beste vriendin, asook haar ouma van wie sy vervreemd geraak het om haar te help om ’n bouvallige winkel in ’n topbakkery te omskep. Hulle huur ’n Michelin-sjef, Matthew (Rupert Penry-Jones), om die bakwerk te doen. Die webblad Decider beskryf dit as ’n hartlike Britse komedie-drama wat komedie, drama en romanse in ewemaat kombineer. Hulle meen die kyk daarvan is soortgelyk daaraan om ’n lekker koppie warm tee te drink of ’n stywe drukkie van ’n geliefde te kry.

Shannon Tarbet is as Clarissa te sien, ouma Mimi word vertolk deur Celia Imrie en die vriendin deur Shelley Conn.

Die ouderdomsbeperking is 13 vir taalgebruik.

Die regisseur is Eliza Schroeder.

• Jolie is te sien as ’n sogenaamde smoke jumper in die riller Those Who Wish Me Dead. Dit handel oor waaghalsige mense wat met ’n valskerm van bo af by ’n vuur inspring en daar land om die vuur van binne te help beveg. Ná ’n tragedie word sy gestuur om ’n toring te beman, van waar sy moontlike brandgevare moet monitor. Sy ly aan posttraumatiese stres en voel skuldig oor die dood van haar makkers in ’n brand. Sy het egter gou al haar vaardighede nodig wanneer ’n jong kind haar pad kruis en sy hom en haarself moet beskerm teen die mense wat hom dood wil hê. Dit blyk dat hulle spesialisopleiding het om mense uit te snuffel en van kant te maak. Om sake te vererger, breek ’n wegholbrand uit.

Al lyk die rolprent op die oog af na ’n riller, is dit eintlik ’n diep emosionele verhaal van mense wat letterlik deur die vuur gaan vir mekaar, het Jolie in ’n onderhoud met etonline gesê. Die ster was ’n dekade laas in ’n aksieprent.

Ander spelers is Tyler Perry en Aiden Gillen. Die regisseur is Taylor Sheridan, ook bekend vir die dramareeks Yellowstone (2018) en die fliek Sicario (2015).

Die ouderdomsbeperking is 13 vir geweld. – Laetitia Pople

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.