Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Knysna bied sy eerste rolprentfees aan

Die skilderagtige Knysna het nou ook ’n rolprentfees, kompleet met ’n bielie van ’n aanbod, ’n groen tapyt en ’n gala-openingsaand.

Dit word van 29 Oktober tot 2 November aangebied. Die fees open met Brett Michael Innes se Fiela se kind in die Knysna Premier Resort and Hotel.

47 rolprente word vertoon, wat insluit vollengteprente tot kortprente en animasie. Plaaslike en internasionale rolprente in verskillende genres, van aksie en komedie tot romanse en dokkies, is op die volgepakte program. Van die 47 prente ding 39 in kompetisie mee.

Drie prente wat op renosterstropery fokus, is te sien: Stroop, die veelbekroonde dokkie van Bonné de Bod en Susan Scott, Myles Pizzey se The Rhino Cup en die kortprent Baxu and the Giants.

The Rhino Cup is verlede maand in die VSA vereer by die A Show for Change-fees. Dit is in Mosambiek en Suid-Afrika verfilm en toon hoe voetbal gebruik word om mense by hul gemeenskap betrokke te kry, om werk en ’n infrastruktuur te skep. Sodoende word mense ’n ander alternatief gebied as renosterstropery vir ’n inkomste.

Die Emmy-benoemde Wildland van Alex Jablonski, wat fokus op die wegholbrande wat Kalifornië verlede jaar getref het en die brandbestryders wat onder onmenslike omstandighede moes werk, is in die gerf skitterdokkies op die fees. Fliekvlooie kan ook let op ’n prent oor die eertydse openbare beskermer Thuli Madonsela, Whispering Truth to Power, Mama Africa oor die sanger Miriam Makeba, Oliver Tambo oor dié eertydse leier van die ANC en Tin Soldiers, wat fokus op die genetiese toestand progressiewe beenvormende fibrodisplasie, ’n siekte wat spiere, ligamente en weefsel in beenmassa verander.

Die 80-jarige aktivis en rolprentmaker Jo Menell se lewe word gekarteer in The Life of Jo Menell,Dying for Gold belig die hoë tol wat die mynboubedryf in Suid-Afrika geëis het en Buddha in Africa vertel die verhaal van ’n weeskind van Malawi wat in ’n klooster as ’n Chinese Boeddhis grootgemaak word.

Onder die rolprente wat uitgesonder kan word, is Homebound, ’n kortprent wat afspeel in ’n vlugtelingkamp en handel oor twee broers wat van ’n oorloggeteisterde gebied gevlug het, Pause wat handel oor ’n vrou vasgevang in ’n liefdelose huwelik wat uitkoms soek deur geweld te pleeg en Film School Africa, wat handel oor ’n regisseur wat haar glanslewe agterlaat om die kuns van rolprentmaak aan ’n verarmde gemeenskap te leer.

Vier vertonings in die buitelug by die Waterfront, spesifiek vir gesinne, is ook in die vooruitsig: Knysna, die Afrikaanse romantiese komedie met Neels van Jaarsveld in die hoofrol, die branderplankryprent The Perfect Wave, die animasieprent Snow Queen 3: Fire and Ice asook die romantiese komedie Fanie Fourie’s Lobola.

Die fees word met ’n gala-geleentheid afgesluit wanneer die wenners bekend gemaak word.

Deur die loop van die fees is daar slypskole, netwerkgeleenthede en paneelbesprekings wat gratis bygewoon kan word.

Besoek die webwerf www.KnysnaFilmFestival.co.za vir meer inligting.

Meer oor:  Fliekfees  |  Knysna
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.