Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kreatiewes genooi om te speel tydens inperking
MJ Lourens by een van sy kenmerkende olieverfskilderye is nou betrokke by ’n interessante nuwe projek. Foto: Nasief Manie

Die staat van inperking het baie kunstenaars gedwing om op nuwe en innoverende maniere te skep. Om hul werk virtueel beskikbaar te stel, omdat galerye, uitstalruimtes, rolprentteaters en teaters volgens regulasies gesluit is.

’n Virtuele uitreik is deesdae dikwels die enigste manier om gehore en kykers te bereik.

Een so ’n projek is, New Direction, wat deur twee universiteitskennisse begin is; die visuele kunstenaar MJ Lourens en Charl Meyer, ’n kreatiewe strateeg.

As kunstenaar, het Lourens nog altyd in die omgewing van onsekerheid gewerk. Die skeppingsdrang is vir hom die dryfveer, ongeag of hy ’n suksesvolle loopbaan kon bou of nie, skryf Lourens per e-pos.

Hy is bekend om grootskaalse stad- en landskappe, asook uitbeeldings van industriële aanlegte waar die verganklikheid van menslike bedrywighede in die landskappe gesuggereer word.

Charl Meyer die kreatiewe strateeg betrokke by New Direction. Foto: Verskaf

“Die pandemie en gevolglike inperking het my opnuut geïnspireer om die gravitas van die tyd vas te vang en nie stil te staan nie. Ek het skielik ’n nuwe aanslag in my skilderkuns gevind en het weer begin speel met verf en besef hoe vry ek kan wees, veral wanneer sekere vryhede van mens ontneem word.

Om rolprente te maak is vir my ’n wonderbaarlike proses. Dit is betekenisvol en opwindend dat mens ander met dieselfde passie en uitkyk deur sosiale netwerke kon bereik.” Hy het beeldmateriaal wat hy geskiet het van sy vriend en medekunstenaar Benjamin Coutouvidis nader getrek en die idee gekry om sy storie uit vier verskillende hoeke te vertel. “As skilder is die finale uitkoms van my werk altyd in my eie hande, maar hier kon ek die uitkoms aan iemand anders (vier redigeerders) oorgee.” Elk van die vier, wat hy op sosiale netwerke ontmoet en na uitgereik het, het die beeldmateriaal gekry en moes daarmee werk. Lourens het geen reëls neergelê nie. So is die eerste uitgawe getiteld 4x4: En Route geskep rondom Coutouvidis se kunspraktyk. Coutouvidis is bekend om stemmingsryke skilderwerke wat tyd, plek en emosie oproep.

In die beelde sien die kyker hoe Coutouvidis en sy hond Llengi, daagliks in die steengroef by Higgovale, naby sy ateljee loop, hoe hy labirinte beplan en op die bodem van die groef uitlê met klippe uit die omgewing. Hy praat hoe die ritme van wandeling sy kunstenaarskap beïnvloed, wat sy invloede is, hoe inspirasie werk en hy maak evokatiewe musiek op selfgemaakte instrumente soos ’n musiekboog uit ’n opgetelde stok.

“Tydens die verfilming was die redigering en die finale produk nooit ver van my gedagtes nie. Ek het van die begin af geen reëls aan die redigeerders gestel nie. Bloot net gesê dat hulle die digter van die beeldmateriaal is en kan hulle eie effekte of musiek gebruik solank kopiereg eerbiedig word,” sê Lourens wat die regisseur van al vier rolprente is.

Meyer meen New Direction is soos die naam aandui ’n nuwe rigting vir kreatiewe praktyk. Kunstenaars en redigeerders word reeds genader vir die tweede samewerkingsprojek.

“Die tweede hoofstuk handel oor kwarantyn. Dit is weer eens ’n ope platform en enigeen kan aansoek doen om deel te neem. In ruil en as vergoeding vir hul tyd en arbeid, ontvang hulle ’n skildery van MJ. Vorentoe bly die beginsel dieselfde. Beeldmateriaal word aan kunstenaars/redigeerders verskaf en hulle interpreteer dit. Die eerste vier hoofstukke hou sterk verband met die Covid-19-pandemie,” sê Meyer.

Hulle sal nog besluit oor die volgende hoofstukke. “Die projek is aktueel, ons beoog om werk vrylik te skep en dit dan beskikbaar te maak vir groter projekte. Later sal ons sien wie ook daarby kan baatvind. Tans dien dit as ’n platform waar kunstenaars vrylik konseptueel kan speel.”

Besoek die webblad: https://www.prefab.co.za/newdirection

om na die films te kyk.

*Die redigeerders van 4x4: En Route is Hermann Venter, Olga Fischer, Steven Bosch en Ross Campbell,

Meer oor:  Films  |  Visuele Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.