Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Krit: 2 flieks wat gehore sal laat gaaaaaaaap

Twee rolprente het Christiaan Boonzaier onlangs vir uiteenlopende redes aan die slaap gemaak. Dit is in een geval nie ’n slegte ding nie, skryf hy.

Só slaap gehore terwyl hulle na die komponis Max Richter se komposisie ‘Sleep’ luister. Foto: Globe Productions/idfa.nl

Max Richter’s Sleep

Dokumentêr

***

Dit is oor die algemeen nooit ’n goeie teken wanneer ’n rolprent ’n kyker aan die slaap sus nie.

Wanneer dít gebeur, word rolprentvervaardigers en draaiboekskrywers daarvoor blameer, hoewel kykers se eie energievlakke en aandagspan tog ook ’n beduidende rol speel.

Met die dokumentêr Max Richter’s Sleep – wat danksy die Encounters-rolprentfees in Kaapstad tot Sondag om 23:59 aanlyn beskikbaar is – sal niemand na enigiemand of enigiets kan vinger wys oor die rede hoekom hulle tydens die rolprent begin dut het nie omdat die dokumentêr na dié resensent se mening deels ten doel het om kykers toeoog te laat snork.

Die rolprent fokus op die 55-jarige Britse komponis Max Richter se 2015-komposisie Sleep, wat gewoonlik deurnag deur ’n klein orkes uitgevoer word en sowat agt en ’n half uur duur. (Wees gerus, die dokumentêr van sowat 99 minute sluit net uittreksels uit dié orkeswerk in.)

Richter was behep met die idee om musiek in jou onderbewussyn te ervaar, en hy het daarom met kundiges saamgewerk om slaap uit ’n wetenskaplike oogpunt te begryp – en musiek te skryf wat luisteraars na droomland vergesel sodat hulle sy musiek ook “daar” kan ervaar.

Konsertgangers het die handvol kere dat die werk deurnag van begin tot einde in ’n konsertsaal, in ’n park of in katedraal uitgevoer is, nie in stoele gesit nie, maar op kampbedjies in slaapsakke en onder komberse na die uitvoering geluister – nie net terwyl hulle wakker was nie, maar ook nadat hulle na hul onderbewussyn weggedryf het.

Dié musikale reis, en hoe presies Richter dit verwesenlik het, word in die dokumentêr aangevul deur ’n kykie na Richter se lewe self, ook as eggenoot en pa, wat in hierdie spesifieke fliek ietwat misplaas voel. ’n Groter fokus op die wetenskap agter slaap en watter invloed Richter se musiek fisiek op sy gehoorlede het, sou die rolprent beter afgerond het (en dalk selfs dié resensent wakker gehou het).

Soos genoem, is dit egter nie ’n slegte ding as kykers wel tydens die dokumentêr ’n uiltjie knip nie – Richter se musiek is beeldskoon, en die eksperiment wat hy hier uitgevoer het, maak die dokumentêr so sonderling soos die musikale projek self.

Awake

Wetenskapfiksie, riller

**

O, die ironie – wanneer ’n Netflix-rolprent Awake heet, maar weens ’n ingewikkelde storielyn, oordramatiese spel en ’n spanninglose eindproduk nie dié resensent se oë kan oophou nie.

Die sibbe Mark en Joseph Raso verdien wel ’n duim na bo vir ’n goeie idee, hoewel dit nie suksesvol in hul draaiboek uiteengesit en in Mark se regie oorgedra is nie.

Die fliek speel af in ’n wêreld waar almal, skielik, vir ’n rede wat geensins duidelik is nie, glad nie meer aan die slaap kan raak nie – selfs pasiënte in komas het eensklaps almal wakker geword.

Die probleem is egter dat die menslike liggaam slaap benodig – daarsonder kan jy nie vir langer as ’n paar dae lewe nie – en met dié dat niemand in dié wêreld kan slaap nie, begin mense links en regs sterf.

Jill (vertolk deur Gina Rodriguez) se dogter, Matilda (Ariana Greenblatt), kan wel vir ’n onverklaarbare rede rustig en diep slaap. Jill en haar gesin haas hulle dan na ’n navorsingsentrum waar hulle hoop kundiges kan bepaal wat Matilda se geheim is in ’n poging om die mensdom te red.

Gaap!

Hoewel die produk op papier opwindend klink, is dit geensins so op jou TV nie. Moet dus nie verbaas wees as jy dit kyk en halfpad deur soos ’n baba in ’n wiegie aan die slaap raak nie.

Dit word wel aanbeveel vir mense wat sukkel met slaaploosheid.

  • Ouderdomsbeperking: 16. Tydsduur: 96 min.
Meer oor:  Gina Rodriguez  |  Ariana Greenblatt  |  Awake  |  Netflix  |  Encounters  |  Dokumentêr  |  Klassieke Musiek  |  Flieks  |  Musiek  |  Sleep  |  Fliek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.