Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Krit: Bo spot, ween oor ons omgedopte en ingekeerde wêreld
Die komediant Bo Burnham in die musiek-en-komedievertoning 'Inside'.

Inside

Netflix

*****

“Welkom by wat dit is,” sê die komediant Bo Burnham in die openingstonele van Inside.

Wat dít is, is moeilik om te beskryf. Sy woord daarvoor is ’n special. Beste probeerslag? Dit is ’n anderhalfuur van sosiale kommentaar geïnspireer deur die impak van die wêreldwye koronaviruspandemie, wat mense nog meer voor skerms vaskluister en gevange hou in die eggokamers van sosiale media.

“Dit (die special),” bieg Bo, “is wat gekeer het dat ek (in 2020) ’n koeël deur my brein gejaag het”.

Burnham is ’n Amerikaanse komediant, musikant, akteur, rolprentregisseur en digter.

Hy span al hierdie talente in met Inside, wat hy in ’n kamer in sy huis bedink, uitgewerk, opgeneem en geredigeer het met ál die effekte – van psigedeliese, visuele kopspeletjies, feetjieliggies tot magrietjies.

Bo Burnham in ‘Inside’.

Hy het dit gedoen toe die meeste mense probeer brood bak of Netflix deurgedraf het, sonder ’n tegniese span of ’n gehoor.

En ’n gehoor is die energie van ’n vertoning. Ons sien dit ook hier as die geblikte gehoor, wat hy opgeneem het, ’n ruk neem om te reageer op sy insigte.

Dit is tegelyk ’n musikale popvertoning, met talle bedrieglike “lekker” oorwurms, teater, podiumpoësie, sosiale kommentaar, dokumentêr en gekheid.

Dit is ’n komiese meesterwerk van die spot met wit vroue se Instagramplasings tot die draakstekery met “sexting” – in ’n wêreld waar die lewe aanlyn is.

Jeff Bezos, hoof van Amazon, kry sommer twee “minneliedere”, hoewel hy nie juis “waardes” het wat “besing” kan word nie.

Soos die jaar vorder, sien ’n mens hoe Burnham fisiek agteruitgaan. Sy hare word langer en ook sy baard, daar is kringe onder sy oë. Die kyker neem ook sy geestelike terugslae waar – die inperking eis sy tol. Burnham kan nie uit die bed opstaan nie.

Hy verwys na angsaanvalle wat hom vyf jaar verhoed het om terug te keer na die verhoog. Hy wou weer in 2020 begin, maar toe slaan die virus toe.

Die selfkommentaar is skreiend soos die verwysings na homself as “ ’n wit ou wat die wêreld gesond wil maak met komedie” en later vra hy: “Hoe durf ’n mens in hierdie tyd komedie maak?”

Deurlopend bly die besef dat ’n uitvoerende kunstenaar sonder ’n (lewende) gehoor niks is nie. Die virus het baie teaters vir maande gesluit gehad. Burnham is al meer as 14 jaar ’n komediant; moet hy soos baie kunstenaars ’n ander werk vir homself bedink?

Die wrang lied “All Eyes On Me” verwys onder meer na die penarie waarin kunstenaarskap nou is.

Inside is vermaaklike, ironiese kommentaar, wat dikwels ongemak by die kyker veroorsaak. Dit is ’n rou en eerlike blik op ons vreemde, omgedopte en ingekeerde wêreld. Loshande die beste aanlyn vermaak wat daar is.

Meer oor:  Netflix
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.