Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Krit: Loren in ’n sprokie van ons tyd
Momo (Ibrahima Gueye) en Madame Rosa (Sophia Loren) in die Italiaanse drama ‘The Life Ahead’ wat op Netflix te sien is.

The Life Ahead

Drama, Netflix

Laetitia Pople

***

Noem die naam Sophia Loren, en ’n mens dink dadelik aan ’n wulpse Italiaanse godin wat viets bly omdat sy self sê sy eet baie spaghetti.

Sy is ’n formidabele aktrise wat op 86 niks van daardie sjarme op die skerm verloor het nie al was sy lanklaas te sien in ’n fliek.

Sy loop nou effe moeilik en dra vals wimpers – wat onnatuurlik lyk.

Sy is Madama Rosa in die Italiaanse drama The Life Ahead. Dié is ’n oorlewende van die Jodeslagting wat as ’n afgetrede prostituut na werkende prostitute se kinders kyk.

Loren beliggaam sorgsaamheid en deernis. Haar gesig is ’n landskap waarop haar eie smart en herinneringsvlugte geteken word. ’n Toneel verdiep met net ’n flits van emosie op haar gesig of ’n uitdrukking in daardie oë.

Dit is haar regisseurseun, Edoardo Ponti, se prent, ’n nuwe weergawe van die Franse 1977-weergawe La Vie devant soi, wat met Engelse byskrifte uitgereik is. Simone Signoret, eweneens ’n gedugte aktrise, was daarin Madame Rosa.

Loren se karakter ontferm haar eers teësinnig oor die 12-jarige weeskind Momo (Ibrahima Gueye) en later smee die twee ’n sterk band. Hulle is eintlik voëls van eenderse vere. Ondanks alles wat die lewe aan hulle opdis, oorleef hulle. Soos Madame Rosa sê eers as jy alle hoop opgee verras die lewe jou opnuut met geleenthede.

Sy weet waarvan sy praat. Op haar pols dra sy ’n tatoeëermerk van syfers en al raak haar gedagtes en greep op die werklikheid vaer by die dag, bly sy sterk staan vir die drie kinders in haar sorg. Momo is ’n vlugtelingskind van Senegal. Sy ma is dood en al herinnering wat hy aan haar het, is dat sy lief was vir dans. Hy het nie eens ’n foto van haar nie.

Die prent is sonder enige oordrewe sentiment. Ponti vertel sy storie so asof terloops. Hy het die draaiboek geskryf saam met Ugo Chiti, wat daardie donker gruprent Dogman geskryf het. Chiti slaan hier ’n bollemakiesie na die lig.

Al die “goeie” karakters vaar goed sonder dat daar ’n stralekransie oor hul kop hang. Daar is verdraagsaamheid van nie net ander kulture nie, maar ook van seksualiteit in dié klein kring. Jode leef vreedsaam langs Moslems, kinders word deur volwassenes raakgesien, daar is absolute aanvaarding van die verskillende vorme wat seksualiteit kan aanneem.

Ons sien as omstanders hoe vlugtelinge van die straat verjaag word, hoe ’n seuntjie nie verstaan hoekom sy ma hom nie kom haal nie. Jou hart breek. Tog vorm daar hier ’n familie wat nie dieselfde bloed deel nie.

Momo raak egter verstrengel in die onderwêreld. Daar is beloning soos ’n eie fiets wat hy self met ’n dik rol note kan betaal. (Ai, die onverdunde vreugde op die jong akteur se gesig terwyl hy sy eie fiets trap deur die stad.) Gaan hy betyds besef dat hy hom nie met die semels moet meng nie?

Dit is verfilm in die kusstad Bari in Italië, ’n miernes van mense en bedrywighede. Teen die woeligheid ontvou die roerende verhaal wat jou opnuut raak, ’n oomblik se lewe en onvoorwaardelike liefde, voor alles weer sy gang gaan.

The Life Ahead is hoe ’n sprokie van ons tyd moet lyk.

Meer oor:  Sophia Loren  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.