Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Krit: Mooie prent wakker verlange na grootskerm aan
Tom Hanks en die 12-jarige Duitse aktrise Helena Zengel vertolk die hoofrolle in ‘News of the World’. Foto: Universal Pictures / Netflix / nytimes.com

News of the World

Western, drama

****

Twee (soms) uiteenlopende gehore gaan moontlik albei aanvanklik teleurgesteld wees met News of the World.

Fliekgangers wat weens die titel ’n rolprent oor die joernalistiek verwag, soos Spotlight (2015) of The Post (2017), gaan gou besef hulle gaan nie dít kry nie; daarteenoor gaan dié wat dink hulle sit aan vir ’n klassieke spaghetti-Western, ook nie uit die staanspoor bevredig wees nie.

Moet egter nie te gou die hasepad kies nie: Die skrywer-regisseur Paul Greengrass diep hier ’n merkwaardige verwerking van Paulette Jiles se gelyknamige 2016-roman op en flans genres saam om ’n beeldskone eindproduk op te lewer.

Die jaar is 1870, ’n paar jaar ná die Amerikaanse Burgeroorlog. Kaptein Jefferson Kidd (vertolk deur Tom Hanks) reis van dorp tot dorp deur Texas om soos ’n wafferse Riaan Cruywagen die nuus uit koerante aan gehore voor te lees wat nie toegang tot ander streeksnuus het nie.

Op sy reis kruis sy pad met die jongeling Johanna (Helena Zengel), wat as baba deur Indiane ontvoer en grootgemaak is. Haar ontvoerders, wat ná jare haar familie geword het, is op hul beurt deur Amerikaanse soldate uitgewis, wat haar in die proses wees gelaat het.

Nadat Kidd onsuksesvol probeer om haar aan regeringsamptenare af te smeer, besluit hy om self in die pad te val en die meisie na haar biologiese ma se familie neem, maar die reis daarheen is allermins plesierig: Benewens skobbejakke wat voorstaanders van onder meer kinderhandel en fopnuus is, durf Kidd en Johanna ook die wispelturige natuur in die Amerikaanse suide aan, wat hulle op talle vlakke uitdaag.

Die reis én al die gepaardgaande uitdagings gee Kidd egter tyd om Johanna te leer ken; die jong meisie met die blonde hare wat haar in die Indiaanse kultuur verdiep het en daar tuis voel. Net so kry Johanna insig in Kidd se denkwyse en menswees wat weens sy eie verliese en sy aandeel in die oorlog geskaaf is.

Die reis én al die gepaardgaande uitdagings gee Kidd egter tyd om Johanna te leer ken; die jong meisie met die blonde hare wat haar in die Indiaanse kultuur verdiep het en daar tuis voel. Net so kry Johanna insig in Kidd se denkwyse en menswees wat weens sy eie verliese en sy aandeel in die oorlog geskaaf is.

Die interessante en oorspronklike verhaallyn en die 12-jarige Zengel se spel – sy is terloops vir onder meer ’n Golden Globe-prys benoem – het geboei. Dit was ook ’n ekstra lekkerte om Suid-Afrika se eie Neil Sandilands in die rolverdeling te sien. Hopelik sien ons hom meer in soortgelyke projekte.

Daarby is die rolprent op die keper beskou ’n “slow burn” – en hoewel dit nie altyd ’n pluspunt is nie, is dit tog hier ’n goeie kenmerk. Gehore wat verkies dat ’n rolprent borrel en kook, sal waarskynlik nie daarvan hou dat News of the World rustig prut nie, maar die ietwat stadiger pas gee die kyker kans om ordentlik deur die Poolse kinematograaf Dariusz Wolski se wondermooie beelde van Nieu-Mexiko (waar die rolprent verfilm is) verlei te word.

Dié mooi beelde het wel die verlange na die grootskerm aangewakker – dit is eintlik sonde om só ’n mooi rolprent op ’n TV-skerm te moet kyk. Kykers met ’n vinnige internetverbinding kan darem die rolprent in 4K ultra-hoëdefinisie beleef, maar ook dít vergoed nie vir die ervaring wat ’n kyker in ’n rolprentteater sou kry nie.

Mag ons terugkeer na rolprentteaters spoedig wees – sodra dit natuurlik veilig is.

  • Met onder andere Elizabeth Marvel, Helena Zengel, Mare Winningham, Neil Sandilands en Tom Hanks. Regie: Paul Greengrass. Ouderdomsbeperking: 13. Tydsduur: 119 min. Op Netflix, ook in 4K ultra-hoëdefinisie.
Meer oor:  Riaan Cruywagen  |  Neil Sandilands  |  Golden Globes  |  Tom Hanks  |  The Post  |  Netflix  |  Fliek  |  News Of The World  |  Flieks  |  Spotlight
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.