Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kromkierie se mensies ewe sjarmant as die sketse

Al het hulle vir ’n dag lank stokkies gedraai, was dit groot pret om uiteindelik te sien hoe hulle stemme lewe gegee het aan die kort animasierolprent, Kromkieriefontein.

Mia Lottering, Alexia Snyders, Milan Murray, Lisa van Niekerk en Sebastian Winterbach op die tapyt by die Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad. Foto: Simon Sonnekus

Dié stemkunstenaars is almal jonger as tien en het hulle dit gate uit geniet by die Silwerskermfees in Kampsbaai waar die fliek Donderdagoggend – in skooltyd – sy debuut gemaak het.

“Ons was hierso om die kortfliek te sien en om te hoor hoe klink ons stemme,” het Sebastian Winterbach (8) opgewonde vertel. Hy en sy medekunstenaars Mia Lottering (9), Lisa van Niekerk (7) en Alexia Snyders (9) het die rolprent gesien en is in hulle noppies daarmee.

Alexia vertolk die rol van Bella, terwyl Mia Dahlia se stem verskaf het. Lisa en Sebastian het onderskeidelik die tweeling Tamara en Tienie gespeel.

Die rolprent is gebaseer op die boek Kop in die wolke in Kromkieriefontein deur die aktrise Milan Murray en draai om die dorpie Kromkieriefontein.

Op dié dorpie is alles krom en loop almal gedweë met hangskouers rond. “Almal behalwe juffrou Kiertsregop, die flambojante graad 2-onderwyseres van Laerskool Kromkierie,” lui die reklame. Vier nuuskierige agtjariges – Dahlia, Bella en die tweeling Tienie en Tamara probeer uitpluis hoekom hulle juffrou so penorent loop.

Die jong akteurs is almal van die Kaap en is die kinders van Murray se vriende.

Mia Lottering, Alexia Snyders, Milan Murray, Lisa van Niekerk en Sebastian Winterbach op die tapyt by die Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad. Foto: Simon Sonnekus
Alexia Snyders, Sebastian Winterbach, Lisa van Niekerk en Mia Lottering saam met Marisa du Toit (agter) wat die karakters in die kortfliek geteken het. Foto: Simon Sonnekus

“Die gehoor het baie hard hande geklap omdat hulle weet hoeveel werk daar ingaan in die drie maande wat dit neem om so iets saam te stel,” het sy na die vertoning gesê. “Ons moes baie hard werk, maar dit was veral lekker om te sien hoe kollegas opstaan en hande klap vir die werk wat jy ingesit het. Dit het darem gelyk asof almal daarvan hou. Jy kan nie nié van Kromkieriefontein hou nie.”

Marisa du Toit het die karakters in die boek en die rolprent geteken.

“Milan het die karakters baie mooi beskryf en my sketse is ’n uitvloeisel daarvan. Dit is nie net vir die rolprent geteken nie, so dit kom al ’n lang pad, maar ek dink die kinders pas die karakters perfek,” het Du Toit gesê.

Marisa du Toit onderteken elkeen van die sketse van karakters van Kromkieriefontein. Foto: Simon Sonnekus

Elkeen van die jong stemkunstenaars is op hulle eie opgeneem en het in die proses ’n verskeidenheid nuwe en moeilike woorde geleer.

Mia moes die naam van ’n spinnekop in die rolprent, Thuli Madikizela Madonsela De Lille, leer terwyl Sebastian die tongknoper “Aerospace astronomiese ingenieur ontwerper” onder die knie moes kry.

Die stemkunstenaars van die bende van Kromkieriefontein meen die fliek sal gehore se monde laat oophang.

“Hulle gaan baie beïndruk wees,” het Alexia gesê.

Meer oor:  Kampsbaai  |  Fliek  |  Silwerskermfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.