Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
KYK: Boksprent is SA se hoop op Oscar 2020
Die plakkaat vir die Suid-Afrikaanse boksprent, Knuckle City, wat Suid-Afrika se inskrywing vir beste buitelandse rolprent gaan wees volgende jaar.

Die Suid-Afrikaanse boksprent, Knuckle City, oor ’n bokser wat vir oulaas poog om sy loopbaan te hervat, is Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir aanstaande jaar se 92ste Oscars uitgereik deur die Academy of Motion Picture Sciences in Los Angeles. Dit word ingeskryf in die kategorie vir beste buitelandse rolprent.

Die misdaaddrama vertel die verhaal van ’n middeljarige bokser en rokjagter van die Oos-Kaap, wat sy boksloopbaan vir oulaas hervat in die hoop om sy glorietyd terug te kry en na sy gesin om te sien.

Die prent is vroeër vandeesmaand goed ontvang op die internasionale rolprentfees in Toronto.

Die regisseur Jahmil X.T. Qubeka se onlangse prente was die western Sew the Winter to My Skin asook Of Good Report. Die laasgenoemde prent het die Afrika-Oscar oftewel die Africa Movie Academy-prys ontvang as beste prent.

Knuckle City het die 40ste internasionale rolprentfees in Durban in Julie vanjaar geopen – en het daar ’n staande toejuiging ontvang. Bongile Mantsai is as beste akteur op die fees vereer vir sy vertolking van die hoofrol. Ander spelers in die prent is Thembekile Komani, Siv Ngesi, Faniswa Yisa, Awethu Hleli, die ontslape aktrise Nomhle Nkonyeni, Zolisa Xaluva, Owen Sejake en Angela Sithole.

Die prent speel af in die landelike Oos-Kaap in die dorp Mdantsane, bekend as die boksmekka van Mzansi.

Die prent volg die lewe van twee broers wat ontspoor weens armoede en hul pogings om daaraan te ontsnap. Mdantsane, die dorp waarin Qubeka grootgeword het, het van Suid-Afrika se groot bokslegendes opgelewer – baie jong mense kies boks as ’n roete uit armoede.

“Wat my opgeval het van die township, waar ek grootgeword het, is dat dit 17 bokslegendes opgelewer het sedert 1994, mans én vroue in verskillende boksafdelings,” het Qubeka in ’n onderhoud in Toronto gesê ná die prent se vertoning daar.

“Kinders het grootgeword met die bokskampioene wat in die township rondry in hul spoggerige motors. Baie het ook die pad byster geraak en net weer beland waar hulle voorheen was. Ek wou daardie trajek ondersoek.”

Qubeka verwys onder meer in ’n persverklaring na die bokskampioen Manelisi “Leli” Mbilase. Hy is in 2018 dood nadat hy gestenig is deur die meestal vroulike gemeenskap in Mdantsane ná hy vermoedelik twee vroue beroof het. Dié eertydse Suid-Afrikaanse liggewig-kampioen het in 2009 opgehou boks en by dwelms en rampokkery betrokke geraak.

“Boksers word aan hulself oorgelaat ná hul boksdae verby is, baie is in pyn en word verslaaf aan dwelms en word so ’n las vir die samelewing. Gegewe dat boks so ’n dissipline is, wou ek die redes ondersoek hoekom talentvolle boksers die pad so byster raak en hulself en hul gesinne verwoes,” sê Qubeka.

Knuckle City soek nie vergifnis vir hierdie mans en hul afstootlike dade nie, maar bied konteks vir hul aangeleerde vrouehaat, manlike toksisiteit en geweld en wys waar dit vandaan kom. Dit is ’n oog-vir-’n-oog-omgewing en ’n mens moet homself of haarself van vroeg staal om te oorleef,” skryf Jared Mobarak in sy resensie vir die webblad TheFilmStage.com. “Qubeka sorg vir sensitiwiteit en introspeksie, wat die werklikheid weerspieël, maar nie goedkeur nie,” sê Mobarak.

“Dit is ’n ontstellende verhaal van ’n verlore man wat poog om na sy gesin om te sien, al is hy in die donker onderwêreld van boks betrokke. Die prent is ’n emosionele uitklophou en ondersoek kommersialisme, armoede, geweld, ras en wat dit vandag beteken om ’n man te wees,” het Layla Swart, een van die vervaardigers van die prent, gesê.

Knuckle City word op 27 Desember in Suid-Afrika uitgereik deur Indigenous Films.

Meer oor:  Oscars  |  Knuckle City
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.