’n Dubbele dosis goeie nuus wag op aanhangers van Charlize Theron wat gewonder het wanneer dié Oscar-wenner se volgende rolprent uitgereik word.
Nie net is die lokprent van The Old Guard, waarin sy die hoofrol vertolk, Donderdag aanlyn uitgereik nie, maar die aksierolprent word op 10 Julie op Netflix, ook in Suid-Afrika, uitgereik.
Theron vertolk die rol van Andy, die leier van ’n groep huursoldate, wat saam met haar span ’n buitengewone kenmerk het: Hulle is onsterflik en kan oënskynlik van enige wond genees. Hul geheim is oor die eeue heen bewaar terwyl hulle die wêreld keer op keer red, totdat ’n magnaat van hulle hoor en sy hande op hulle wil kry sodat hy munt uit hulle kan slaan.
Dit is naas Mad Max: Fury Road (2015), Atomic Blonde (2017) en ander aksierolprente die soveelste rolprent waarin die 44-jarige Theron omtrent gat skop.
Dit eis egter fisiek ’n tol: The Hollywood Reporter berig The Old Guard is die einste rolprent waarna Theron verwys het toe sy in Oktober verlede jaar met ’n handbesering op die laatnaggeselsprogram Jimmy Kimmel Live verskyn het.
“Ek voel soos ’n dwaas. Ek was in ’n aksierolprent en het ’n ligament van die been af geskeur terwyl ek besig was om (in die rolprent) te baklei,” het sy toe gesê nadat sy reeds twee maande aan die herstel was.
“Ek het ook my elmboog opgemors.”
Dit wil voorkom asof sy darem sedertdien ten volle herstel het.
Die rolprent is op die gelyknamige strokiesprentboek deur Greg Rucka gegrond, wat ook die draaiboek vir die rolprent behartig het.
Die rolverdeling sluit Chiwetel Ejiofor, KiKi Layne, Luca Marinelli, Marwan Kenzari en Matthias Schoenaerts in.
Die regisseur is Gina Prince-Bythewood, wat met rolprente soos Love & Basketball (2000) en The Secret Life of Bees (2008) in die regisseurstoel was.
– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier