Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
KYK: Fliek oor SA Elvis-sanger ná 10 jaar uitgereik

’n Dokumentêr wat handel oor die enigste vrou in Suid-Afrika wat ’n Elvis-huldeblyksanger is, is vir die eerste keer uitgereik – tien jaar nadat dit aanvanklik verfilm is.

Ari Kruger, regisseur van Elvis Tribute Artist, sê hy het nie tydens die verfilming daarvan in 2010 en 2011 besef hy sal weens die gebruik van Elvis Presley-liedjies ’n lisensie moet bekom as hy die fliek êrens wil uitsaai of op ’n rolprentfees vertoon nie.

“Nadat ons die rolprent klaar geskiet het, het ek die Elvis Presley-instituut oor die lisensiëring van die liedjies genader, maar hulle het my basies by die gebou uit gelag – per e-pos, maar dit is hoe dit gevoel het.

“Die lisensie vir die musiek sou gans te duur wees, selfs al word die Elvis-liedjies deur ander kunstenaars gesing; daarom kon ek die rolprent nêrens noemenswaardigs wys of vertoon nie en het dit vir ’n goeie paar jaar op die rak gesit.”

Hy het onlangs egter besef hy kan dit op YouTube uitreik, mits hy volgens die video-webwerf se reëls nie die rolprent monetiseer en munt daaruit slaan nie. Hy’t die rolprent toe vinnig afgestof, dit met bykans 19 minute gesny en dit as ’n kortdokumentêr van 16 minute op YouTube uitgereik, waar dit nou gratis gekyk kan word.

Die sanger Monique Cassells van Kaapstad sê sy was “baie bly” om te hoor die dokumentêr, wat oor haar handel, is uiteindelik uitgereik.

Monique CassellsFoto: Verskaf

Dit fokus meer spesifiek op Cassells, destyds ’n administrasieklerk in die tydskrifafdeling by Media24, wat daarvan droom om ’n heeltydse Elvis-huldeblyksanger te word. ’n Tikkie van dié droom word waar wanneer sy die geleentheid kry om aan die Elvis Festival Africa op die dorpie Stormsrivier in die Oos-Kaap deel te neem en skouers te skuur met van Suid-Afrika se voorste Elvis-huldeblyksangers, onder andere haar huidige verloofde, James Marais, asook Fanie Schoeman, Lionel Hunt, Andrea Giglio en Tony de King.

Hoewel sy in die dokumentêr beskryf word as die enigste vrou in Suid-Afrika wat ’n Elvis-huldeblyksanger is – ook net een van ’n handvol sulke vrouesangers wêreldwyd – erken sy sake sien nou, ’n dekade later, ietwat anders uit. Nie net is sy in 2016 afgelê nie, maar sy het “eintlik lank laas as ’n ETA (’n Elvis Tribute Artist) opgetree”.

“Ek en James doen nou verskillende produksies en fokus meestal daarop om ’n groot verskeidenheid musiek te vertolk. Ons spesialiseer in oldies-musiek en rock ’n roll van die 1950’s tot die 1980’s. Ons het ook ’n countrymusiek-produksie wat fokus op countrymusiek van die 1950’s tot die 1980’s.

“James vertolk meestal die Elvis-musiek in hierdie vertonings, maar ons doen ook ’n groot Elvis-produksie, waar ek tussen James se optredes ook Elvis-musiek sing.

“Die verskil is dat ek nie Elvis-kostuums dra soos ek op die Elvis Festival Africa gedoen het nie.”

Die uitreiking van die dokumentêr en die nasionale inperking het haar egter laat dink dat dit tyd is om weer in die koning van rock ’n roll se skoene te klim.

“As gevolg van die inperking is daar verskeie Facebook-groepe wat nou op ETA’s gefokus is en wat bereid is om hul vertonings deur die groepe regstreeks te stroom. Ek is daarom besig om ’n vertoning bymekaar te sit waarin ek weer as ’n ETA sal optree. Ek weet van drie ander vroue oorsee wat al op ETA-groepe opgetree het en goed ontvang is, ek voel dus die tyd is reg om dit weer te begin doen, veral noudat die dokumentêr uitgereik is.”

Meer oor:  Dokumentêr  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.