Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Kyk hier na Afrikaanse flieks wat jy misgeloop het
Louw Venter en Kaz McFadden in ’n toneel uit Kampterrein.

Daar sal iets vir almal op die stromingsplatform van jou keuse wees – van die Afrikaanse flieks wat jy misgeloop het, tot die flieks waaroor jy gaande was en graag weer wil kyk.

Hoogtepunte wat deur die plaaslike verspreider Indigenous Film Distribution verteenwoordig word en die afgelope paar jaar in teaters vertoon is, is nou op aanvullende platforms beskikbaar.

“Daar is iets vir elkeen – rillers, dramas, romantiese flieks, komedies en musiekspele,” het Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution, gesê. “Onder die gegewe omstandighede is dit die perfekte geleentheid vir gehore om die flieks op digitale platforms tuis te kan geniet.”

Die Storie van Racheltjie de Beer, ’n 2019-fliek oor ’n jong Afrikaner-meisie in die Voortrekker-era wat haar lewe vir haar boetie opoffer, is op DStv BoxOffice beskikbaar. Groot name soos Marius Weyers, Sandra Prinsloo en Antoinette Louw speel in dié fliek.

Op Netflix en Showmax is daar vir aanhangers van musiekspele die 2010-lokkettreffer Liefling, ’n liefdesverhaal oor ’n meisie met ’n passie vir avontuur. Die storie word met behulp van immergroen Afrikaanse liedjies van die 1970’s tot treffers van vandag vertel. Sonja Herholdt speel die ma van Liefling Marais (Lika Berning), wat halsoorkop op Jan (Bobby van Jaarsveld) verlief raak. Die onderduimse knoeier, Melanie (Marlee van der Merwe), sal egter enigiets doen om Jan vir haarself toe te eien. Bekendes soos Elize Cawood, Rouel Beukes, Kurt Darren, Sylvaine Strike, Porteus Xandau, Anna Davel, Kevin Leo, Clementine Mosimane en Paul du Toit speel in die fliek.

Liefling is vervaardig deur Paul Kruger en Linda Korsten, dogter van wyle Gé Korsten, wat in die 1970’s ’n trefferliedjie met dieselfde naam gesing het.

’n Toneel uit die fliek Die storie van Racheltjie de Beer.

Vir kykers wat iets meer grusaam soek, is daar Die ontwaking. Hierdie grieselrige en aksiebelaaide misdaadriller wat die psige en motiverings van ’n reeksmoordenaar, Abel (Gys de Villiers) ontgin, sal ook op Netflix en Showmax beskikbaar wees. Abel is die eienaar van ’n klein galery wat in Afrika-maskers en -kuns spesialiseer. Juanita de Villiers, Gérard Rudolf en Paul Eilers speel hoofrolle in die fliek.

Nog ’n musiekblyspel op Netflix is Pretville, ’n vrolike prent vir die hele gesin wat in die 1950’s in ’n fiktiewe dorpie waar enigiets moontlik is, afspeel. Die fliek spog met akteurs soos Marlee van der Merwe, Eugene Jensen, Marno van der Merwe en Lizelle de Klerk. Dan is daar ook die lekkerkyk-fliek French Toast, ’n romantiese komedie oor ’n Suid-Afrikaanse vrou (Lika Berning) wat na Parys reis op soek na ’n lang verlore broer/suster waarvan sy nooit geweet het nie, met net haar ma se dagboek en ’n hangertjie as hulpmiddels. Thierry Ballarin, Deon Lotz en Heléne Lombard vertolk ook rolle in die fliek. In die klassieke Afrikaanse rom-kom Eintlik nogal baie, is Jay ’n strokiesboekillustreerder, maar ook ’n ou wat by ’n kruispad in sy lewe gekom het. Toe hy egter vir Ally ontmoet, verander sy lewe onherroeplik op die mees dramatiese wyse. André Lótter, Marisa Drummond en Zak Hendrikz speel in hierdie fliek.

Gehore wat toegang tot Showmax het, kan uitsien na ’n hele paar hoogtepunte, soos Skemerson (2019), ’n Afrikaanse fliek wat deur ware gebeure geïnspireer is. ’n Jong man wat met ’n geestesiekte sukkel, besluit om sy eie lewe te neem. Toe hy uiteindelik op die brug van sy keuse staan, gereed om te spring, hoor hy ’n vrou lag. Dit is die begin van ’n naweek wat drie mense se lewe ingrypend verander. Met Pietie Beyers, Elize Cawood en Anneke Weidemann in die hoofrolle.

Vakansie-chaos is aan die orde van die dag in die hedendaagse gesinskomedie Kampterrein. Die Afrikaanssprekende Fouché-gesin daag by die ATKV Buffelspoort-vakansieoord op, maar sien dadelik dat hul gebruiklike woonwastaanplek deur die Khumalo’s beset is. Die fliek verskaf ’n hele paar lagwekkende tonele as die twee gesinne vergeldende aksies en allerlei kaskenades op mekaar uitprobeer. Louw Venter, Juanita de Villiers, Josias Moleele en Zenande Mfenyana is te sien.

Nadat ’n prentjiemooi plattelandse troue op ’n fiasko uitgeloop het, probeer ’n groep babelaas vriende die oggend ná die troue om die legkaartstukke van wat die vorige aand gebeur het, bymekaar te pas. Op soek na antwoorde wil die bruidegom die liefde van sy lewe kry, die bruid probeer om haarself uit die web van die verlede te bevry, terwyl ’n kelnerin probeer om aan die toekoms te ontsnap – dit is die kern van die storie van Wonderlus (met Mila Guy, Edwin van der Walt, Lea Vivier en Stiaan Smith).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.