Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
KYK: Lokprent van magiese ‘Toorbos’ is uit
Elani Dekker in ’n toneel uit Toorbos, wat binnekort begin wys in rolprentteaters.

Die lokprent van die regisseur René van Rooyen se langverwagte Toorbos is pas vrygestel.

Dit is Van Rooyen se verwerking van Dalene Matthee se gelyknamige roman wat verlede jaar op die Silwerskermfees sy première gehad het. Die uitreikdatum in Suid-Afrikaanse teaters is nog nie bekend nie.

Toorbos is een van Matthee se vier mistieke bosboeke wat handel oor die bewoners van die Knysnabos in die 1930’s.

Dit was veral die roman se hoofkarakter, Karoliena Kapp, se “vreemde, intieme, byna bonatuurlike verbintenis met die oerbos” wat Van Rooyen aangegryp het.

Die boek handel oor die liefdesdriehoek tussen die boskind Karoliena, die ryk dorpsman Johannes Stander, ’n eertydse bosbe­woner wat hom uit armoede losgewikkel het, en die ewige, bonatuurlike bos as derde karakter.

Karoliena se stryd om haarself te bemagtig ná haar huwelik met die ouer Stander en dan aan te pas by ’n lewe op die dorp nadat sy haar lewe lank as alleenkind in die bos gewoon het, is die gegewe.

“Daar is soveel metaforiese parallelle in Karoliena se storie en die inheemse bos wat uitgekap word en vervang word deur uitheemse pynbome (denne), asook die rehabilitasie van die bosbewoners as deel van ’n kulturele skoonmaakproses.”

Van Rooyen lees die roman as die “groot geveg tussen siel, vryheid, selfbemagtiging en individualiteit teen die mag van geld, vooruitgang en die staat”.

Die hoofspelers is Elani Dekker en Stiaan Smith.

Van Rooyen en haar wederhelf Corné het die roman verwerk en die vervaardigers is André Scholtz en kyk­NET. Scholtz is bekend om die gewilde Leon Schuster-flieks Panic Mechanic (1996) en Schuks! Your Country Needs You (2013).

Matthee se Kringe in ’n bos is in 1989 as Circles in a Forest deur Regardt van den Bergh verfilm met Arnold Vosloo in ’n hoofrol en Fiela se kind is in 1999 deur Katinka Heyns verfilm. Die skrywer se boeke is in 14 tale vertaal. Fiela se kind het ook ’n suksesvolle lewe as teaterstuk, opera en musiekblyspel gehad. – Laetitia Pople

Meer oor:  Elani Dekker  |  Toorbos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.