Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
KYK: ‘Music’ grootste ‘wenner’ van Razzies

Die Australiese popsangeres Sia se omstrede musikale drama Music is Saterdag by die 41ste Golden Raspberry Awards, oftewel die Razzies, met die meeste pryse “bekroon” – maar dit is eintlik niks om oor te spog nie.

Die Razzies, wat oudergewoonte elke jaar ’n dag of twee voor die Oscars uitgedeel word, wys jaarliks die slegste rolprente, draaiboeke en akteurs in die voorafgaande jaar aan.

Music, wat onder meer fel gekritiseer is vir sy uitbeelding van outisme, het drie pryse gewen: Sia is as slegste regisseur aangewys, terwyl Kate Hudson en Maddie Ziegler die pryse vir onderskeidelik slegste aktrise en slegste byspeelster ontvang het.

Hoewel Music ook benoem is vir slegste rolprent, moes dit dié prys afstaan aan Absolute Proof, die Amerikaanse sakemagnaat Mike Lindell se omstrede dokumentêr oor beweerde knoeiery in verlede jaar se Amerikaanse verkiesing.

Lindell, ’n stoere Trump-ondersteuner en -raadgewer, het Robert Downey Jr. in Dolittle, Michele Morrone (365 Days), Adam Sandler (Hubie Halloween) en David Spade (The Wrong Missy) ook om die prys as slegste akteur geklop.

Nog ’n Trump-ondersteuner, Rudy Giuliani, het ook twee Razzies ontvang – dié vir slegste byspeler en slegste silwerdoekkombinasie – vir sy ewe omstrede verskyning in die komedie Borat Subsequent Moviefilm.

Giuliani, wat nie geweet het hy word vir die rolprent verfilm nie, het gedink hy staan ’n onderhoud aan ’n beeldskone joernalis toe. Dié “joernalis” was in der waarheid die aktrise Maria Bakalova, wat ’n foponderhoud met Giuliani in ’n hotelkamer gevoer het. Giuliani en Bakalova het tydens die onderhoud op ’n bed gaan sit, waar hy vir ’n hele paar sekondes sy hand in sy broek gedruk het. Hy het homself ná die voorval verdedig en gesê het hy het bloot sy hemp in sy broek gedruk nadat hy sy lyfmikrofoon (vir die onderhoud) afgehaal het.

Die ander Razzie-wenners sluit in die Poolse erotiese drama 365 Days, wat die prys vir slegste draaiboek gewen het en Dolittle, wat die Razzie vir slegste nuwe weergawe van ’n rolprent ryker is.

Die Razzie-beoordelaarspaneel het ’n spesiale prys aan die jaar 2020 toegeken en dit as “die slegste jaar tot nog toe” bekroon.

  • Saamgestel deur Christiaan Boonzaier
Moenie die Oscars misloop nie!

M-Net het Vrydag aangekondig dat hy die Oscars se voorvertoning Maandagoggend van 00:30 tot 02:00 op DStv-kanaal 104 sal uitsaai. Dit sal opgevolg word deur die Oscars-toekenningsplegtigheid, wat van 02:00 tot 05:00 uitgesaai word. Dit word op dieselfde dag om 22:30 op DStv-kanaal 101 herhaal.

Netwerk24 sal die prysuitdeling Maandagoggend regstreeks blog.


Meer oor:  Dolittle  |  Adam Sandler  |  Trump  |  Robert Downey Jr.  |  Donald Trump  |  The Wrong Missy  |  David Spade  |  Rudy Giuliani  |  Borat Subsequent Moviefilm  |  M-Net  |  Dstv  |  Kate Hudson  |  Outisme  |  Music  |  Flieks  |  Sia  |  Fliek  |  Oscars  |  Razzies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.